18 dae gelede
#KYK: Stormnag met ’n lyk in die huis
FAMILIE: Angela Hill en Jantjie Blaauw sê wat gebeur het. Foto’s: Astrid Februarie  ~ 

ANTIE Keda se stryd met TB het op ’n stormagtige aand in Belhar tot ’n bloedige einde gekom.

Katrina Hill (61) was in Uitbreiding 13 bekend as antie Keda. Sy het jare lank daar gewoon.

Hill het jare gelede onder Son se aandag gekom toe inwoners gekla het oor haar swak higiëne.

Son het toe gereël dat Hill ’n skoonmaak-en-pamperlangsessie kry.

Die koerant het daai tyd nog berig oor die “stinkie” wat ’n “blinkie” geraak het.

Drie jaar gelede, op 5 Julie, het Hill haar lewensmaat, Toekies Daniels, verloor toe haar huis in Somersetlaan aan die brand geslaan het.

Hill is vir rookinaseming behandel.

Jantjie Blaauw (48), Hill se susterskind, vertel Hill se longe was daarna nooit weer dieselfde nie.

“Sy het gebattle met ’n aanhoudende TB en het ’n tyd lank in die hospitaal gelê hieroor. Die laaste weke was haar bene opgeswel. Sy kon nie lekker loop nie.”

Maar volgens Blaauw was sy nie bedlêend nie.

Hy sê toe hy Dinsdagaand van die werk af kom, het Hill hom nog vir ’n entjie gevra.

“Ek het gesê ek gaan gou vir ons een skarrel.”

Enkele oomblikke nadat hy uit die kamer is, het sy weer geroep.

“Toe ek by haar kom, was haar hand nog in haar mond.

“Haar mond en voor op haar bors was vol bloedstukke.

“Dit het gelyk asof sy haar longe opgegooi en dit haar gewurg het.

“Sy het seker probeer om die stukke uit te haal.”

Blaauw sê die aand van die brand het dit ook so vreeslik gereën soos Dinsdagaand toe Hill dood is.

Katrina Hill (61)FOTO Verskaf

Drie jaar ná die brand is hulle krag steeds af.

Hill se dogter, Angela Hill, sê sy het nou al baie mense oor die kragprobleem gaan sien, maar die ligte by hulle huis is steeds af. Altesaam 14 mense – vier gesinne – woon op die perseel.

Hill is omstreeks 18:00 dood.

Forensies het haar lyk egter eers Woensdag 05:00 kom haal.

Mark van den Heever, woordvoerder vir EMS en die forensiese dienste, sê die polisie is die eerste mense wat na ’n toneel uitgeroep word wanneer iemand sterf.

Prioriteit

“Die polisie bel die EMS om die persoon dood te verklaar. Daarna word ’n ondernemer of forensiese dienste gebel. Mense moet in ag neem dat die ambulansdienste se prioriteit is om mense te red en dat hulle eers daarna kan gaan na tonele waar iemand dood is.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters