2 maande gelede
Stink issue is al ’n ou ding
Groot ongerief: Marsha-Lee Claasen sê hulle moes van Sondag af elke dag emmers rioolwater uitskep.  ~ Jonathan Lestrade

EERS het die reënwater hulle laat suffer... nou kasty die strontwater hulle.

Inwoners van Malvastraat in Scottsville, Kraaifontein, is nou al gatvol vir jaar in en jaar uit se k*kstorie.

Die 11 huisgesinne in dié straat wie se wonings weer oor die naweek met rioolwater oorspoel is, kan nie meer uithou met die permanente probleem nie.

Marsha-Lee Claasen (27) sê hulle is bitter ontsteld.

“Dit maak my bitter seer dat niemand uitgekom het sedert ons van Sondag af met die huise vol stront moes sit nie.”

Sy sê hulle het lekker gesit toe hulle sien hoe die water hul huise begin oorstroom.

Die hartseer ma van twee vertel dat haar kinders nou sonder kos sit omdat hulle die yskas moes afsit weens die water. Sy kla hul vleis begin afgaan.

“Waar moet ons nou geld kry? My kinders sit nou sonder kos.”

Sy voeg by hul meubels vrot al van nattigheid.

“As dit net gewone water was, was dit fine, maar jy kan duidelik die drolle daarin sien dryf.”

Lisma Fritz (43) vertel sy weet nie watter kant toe nie.

Fritz het haar kinders se klere gebruik om die water op te droog en moes dit toe alles in die drom gooi weens die sterk stank daarin.

Dit was glo skoon klere wat sy uit die wasmasjien moes haal.

“Ek bly al 43 jaar hier en ál 43 jaar lewe ek met die probleem saam.

Verlies: Lisma Fritz moes haar vier kinders se klere weggooi wat sy gebruik het om die water op te droog.

Dringend

“Ek moes destyds kyk hoe my ouers emmers waters uitgooi en nou moet ek dieselfde doen. Ek is moeg van dit.”

Sy vertel haar yskas het ook nou die gees gegee.

“Dis nie lekker nie.”

Die inwoners sê daar moet dringend iets aan die saak gedoen word, want hulle kan dit nie meer hou nie.

Sam Daniels (56) sê hy het al duisende rande verloor oor sy meubels wat jaarliks vrot en hy sukkel om sy eise uitbetaal te kry.

Volgens hom was daar in November 2020 drie storms waar die strontwater hul huise oorstroom het. Hy wag nou nog vir daardie eise.

Hy sê ’n stel banke het verlede jaar gevrot. Hy moes vanjaar ’n ander stel koop wat ook nou beskadig is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters