9 dae gelede
Stilte voor die EFFing storm ...
KALM: Die Hoërskool Brackenfell gaan na verwagting vandag weer besig wees.  ~ 

DIS die stilte voor die verwagte storm.

Die situasie rondom die Hoërskool Brackenfell was gister rustig voor die EFF se be­toging buite dié skool.

Die rooi barette sou na verwagting vandag in hul massas na dié skool stroom.

Dit volg nadat inwoners Maandag EFF-lede in ’n oënskynlike rasse-aanval sowat 1 km van die skool se hekke af aangerand het.

Julius Malema, die EFF-leier, het vroeër dié week op Twitter gesê hy “verwelkom die uitnodiging” na Brackenfell.

Al ses EFF-streke in die Wes-Kaap het opdrag van die leierskorps gekry om hul lede na Brackenfell te stuur.

Dit volg ten spyte daarvan dat die Stad Kaapstad aan die EFF ’n permit vir net 100 betogers toegestaan het.

Debbie Schäfer, Wes-Kaapse onderwysminister, veroordeel die EFF se optrede ten sterkste.

Volgens Schäfer stel die EFF nie belang in oplossings vir enige kwessies wat hy dalk met die skool het nie.

Haar opmerking volg nadat die EFF se verteenwoordigers Woensdag die vergadering gekanselleer het wat hy gister met Schäfer sou hê.

KONFRONTASIE: Die vuiste het laas Maandag geklap toe die EFF voor die Hoërskool Brackenfell probeer betoog het. Foto: Peter Abrahams

Schäfer sê: “Dis baie duidelik die EFF stel nie daarin belang om sy bekommernisse te bespreek en op te los nie.

“Sy enigste doelwit is om skoolopleiding te ontwrig en die skool te intimideer.

“Hy wil ons leerders se angs verhoog in ’n jaar waarin die leerders reeds ’n moeilike tyd deurgemaak het.

“Ons weet dat die EFF-leiers herhaaldelik dreigemente van geweld in die sosiale media en op die radio gemaak het.

Taktiek

“Die polisie is daarvan bewus en is besig om dit te ondersoek – ingevolge ’n ver­gadering wat ek met (die Wes-Kaapse polisiekommissaris) lt.genl. Yolisa Matakata gehad het.”

Sy moedig inwoners van Brackenfell aan om van die skool af weg te bly, behalwe ouers wat hul kinders gaan aflaai of optel.

“Die EFF is desperaat vir ’n konfrontasie buite die skool,” waarsku sy. “Moenie vir hul taktiek val nie.”

  • Intussen het die Cape Party, wat bekendstaan vir sy herhaalde oproepe vir ’n “onafhanklike Wes-Kaap”, op sy Facebook-blad versoek dat lede van die publiek in Brackenfell juis die skool teen die aanslag van die EFF moet gaan beskerm.

’n Plakkaat wat die Cape Party Woensdag op Facebook geplaas het, basuin­ uit: “Staan saam en ondersteun die skoolkinders, ouers en inwoners van Bracken­fell. Stop EFF-rassisme. Beskerm die Kaap.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters