Verlede maand
Stigting help vroue wat ly
’N virus: Te veel vroue gaan gebuk onder gendergeweld.  ~  Foto ter illustrasie: JONATHAN LESTRADE

MET al die geslagsge­baseerde geweld (GBV) en moorde op vroue het ’n organisasie in die Noord-Kaap besluit dis hoog tyd om vroue te bemagtig om hulself te beskerm.

Dis hoekom Portia van Wyk die Give Light Foundation gestig het.

Van Wyk sê daar word die laaste jare hopeloos te veel moorde gepleeg in die ZF Mgcawu-distriksmunisipaliteit, wat sy setel in Upington het. Volgens haar is die hotspots in die Kai !Garib- en Dawid Kruiper-distrik geleë.

Warriors

Sy sê dis waarom hulle besluit het om juis in dié areas met ondersteuningsgroepe te begin.

Van Wyk vertel: “Dis sodat daai warriors kan teruggaan na hul areas om te kyk wie en hoe hulle slagoffers kan help.”

Sy voeg by die opleiding moet die aanmeldstelsel vir die slagoffers makliker maak.

Volgens Van Wyk het die Give Light Foundation reeds met sy opleidingsprogram oor GBV vir sy support warriors begin en dit is sover ’n groot sukses.

Sy sê hulle kry verskriklik baie ondersteuning van sakelui in die distrik.

Van Wyk verduidelik: “Scatec en Bray’s Spar is groot sponsors van die Give Light Foundation.

“Hulle het gesê hulle staan saam met ons om die GBV-euwel te probeer hokslaan.

“Bray’s Spar in Keimoes het bevestig hy gaan nou met ons hande vat en hy gaan nou permanent saam met ons die pad loop.

“Ons as die Give Light Foundation staan teen GBV en wil help waar ons kan. Ons wil ook ’n verskil maak in die mense en slagoffers se lewe. GBV is ’n euwel!

“Dit moet erg wees om ’n slagoffer te wees. Om te dink daai perpetrator raak aan jou human rights en jou civil rights.”

Van Wyk sê haar wens is dat meer vroue sal opstaan vir hul regte.

Hieroor beklemtoon sy: “Staan asseblief op, mense en sê nee vir GBV!

“Kom ons wees die stem vir die ander wat nie ’n stem het nie en vir dié wat ons al verloor het in die geveg teen GBV.”

Van Wyk bedank groepe soos die Independent Policing Union of SA (Ipusa), die berader Mark Solomon asook raadslid Maria Maasdorp van Kalksloot.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters