2 maande gelede
Stemdag: Cops is slaggereed
Lewer diens: Die polisieminister, Bheki Cele, belowe die SAPD sal vir ’n vrye en regverdige verkiesing sorg.Foto’s: Peter Abrahams  ~ 

MEER as 5 000 polisiebeamptes is in die Wes-Kaap ontplooi om te verseker dat verkiesingsdag vry, regverdig en bowenal veilig kan afloop.

Die nasionale polisie­minister, Bheki Cele, het van die beamptes gisteroggend by die Kaapstad-stasie toegespreek.

Gister en vandag is geoormerk vir kiesers om spesiale stemme uit te bring.

Dit is veral vir kiesers soos bejaardes en nooddienswerkers wat nie môre tydens die algemene verkiesing by ’n stemlokaal kan uitkom nie.

Cele het aan die cops gesê hulle werk in dié stemproses is om die veiligheid van inwoners te verseker.

Hy het verder gesê benewens die 5 000 cops is daar ook 400 reserviste op ’n gereedheidsgrondslag.

Die weermag is ook op standby indien dit nodig sou wees om die polisie te ondersteun om wet en orde te handhaaf, sê hy.

“Julle is belangrik, want julle verseker die inwoners se veiligheid en gemoedsrus,” het Cele aan die beamptes gesê.

“Dis baie belangrik dat die verkiesing met integriteit voortgaan.

“Moenie polities raak nie. Julle is toegelaat om te stem en dis waar julle politics eindig.”

Volgens Cele word die Wes-Kaap nie beskou as ’n hoërisiko-provinsie soos in die geval van KwaZulu-Natal nie.

“Daar’s in die Wes-Kaap net ’n paar stemlokale wat as risiko-gebiede beskou word,” aldus Cele.

“Maar dit wil nie sê dat dié provinsie self ’n hoër risiko loop wat veiligheid en sekuriteit betref nie.

“In KwaZulu-Natal is daar sekere plekke waar beamptes van die Onafhanklike Verkiesingskommissie nie sonder sekuriteitswagte mag ingaan nie.”

Die Wes-Kaapse polisiekommissaris, lt.kol. Khombinkosi Jula, sê: “Daar is baie voorbereiding wat agter geslote deure plaasgevind het. Ons is gereed vir die verkiesing.

“Dienslewering by ál 151 van ons polisiestasies in die provinsie sal soos gewoonlik voortgaan.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters