Verlede maand
Steeds geen nuus oor Tazne

DAE het oorgeloop in weke vandat klein Tazne van Wyk (8) verdwyn het.

Maandagaand laat het die deurbraak gekom. Haar vermeende ontvoerder is in Cradock vasgetrek.

Die enigste probleem is dat sy nêrens in sig is nie.

Moyhdian Pangarker is in Cradock in die Oos-Kaap gearresteer nadat hy na bewering vir Tazne ontvoer het.

Toe Tazne se ouers, Carmen van Wyk en Terrence Manuel, die nuus vir die eerste keer hoor, het hulle geweet die Here het hulle gebede verhoor.

Die ouerpaar bly steeds hoop dat hulle meisiekind gevind sal word.

Maar toe die polisie gisteroggend by hulle huis kom, het hulle net nuus oor die verdagte se arrestasie gehad. Verder het hulle niks gehad om van Tazne te sê nie.

Die ouerpaar het gister aan Son gesê dis erg dat daar geen inligting oor hulle kind is nie.

Van Wyk vertel: “Al wat die polisie gesê het, is dat hulle hom (Pangarker) gevang het. Toe ons vra waar ons kind is, het hulle gesê hulle het geen inligting daaroor nie.”

Gedeel

Volgens Van Wyk het hulle gisteroggend vir die eerste keer die nuus in die sosiale media raakgesien. Sy sê oor hulle onseker was en gedink het dis net weer ’n rumour, het hulle besluit om die polisie te bel.

Dis toe eers dat die ondersoekbeampte die nuus met hulle gedeel het, sê Van Wyk.

Manuel sê aan Son hy voel nou dat Pangarker uiteindelik gevang is, moet hy nie weer in die gemeenskap toegelaat word nie.

“Wat hy met ons kind gedoen het, moet hy nooit weer met iemand anders se kind doen nie.

“Al wat hy nou moet doen, is om te praat en te sê waar ons kind is.

“Ons hoop dat sy gesond en veilig terug sal kom. Ons glo dat sy binnekort oor die drumpel van ons deur geloop gaan kom.

“Ons hoop hy gaan vir die res van sy lewe in die tronk sit. Wat hy ons deurgesit het, is horrifying.”

Tazne se ouers sê sodra sy weer tuis is, sal hulle haar druk en soen sonder ophou.

Manuel spot hy sal vir altyd ’n slot en ketting op die hek hou sodat sy nie na buite kan gaan nie. Hy sê ook hy sal haar elke dag van sy lewe self skool toe neem en weer gaan haal.

Zelda Trantraal van die Ravensmead-gemeenskapspolisiëringsforum was ten tyde van Sonse besoek by die familie. Volgens Tran­traal het sy al Maandagaand die boodskap ontvang dat Pangarker gearresteer is.

Sy sê sy is baie ongelukkig hieroor. Sy sal die polisie oor die situasie aanspreek.

Trantraal vertel: “Ek was gisteraand (Maandag) hier by die ouers, maar toe wou ek nie vir hulle sê nie.

“Dit was nie my plek om vir hulle te sê nie.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters