2 maande gelede
Sterstatus wink vir Shayde
s
SKAMERIG: Sayde Fillis (12) is heel nederig, maar hardwerkend.  ~ Peter Abrahams

HY IS gebore met talent en beslis ’n ware TikTok-sensasie!

Sayde Fillis (12) van Kalkfontein in Kuilsrivier het vandeesweek bewys hy is een van môre se popsterre.

Die 12-jarige engelstem trend sedert Dinsdag in die sosiale media nadat ’n video van sy pragtige sang by die skool viral gegaan het.

In die video wat Dinsdag van hom gemaak is, sing klein Sayde ’n hartroerende weergawe van Adele se liedjie “Easy on Me”.

Son het die mannetjie opgespoor en toe hy in die straat gaan staan en sing het, het hy almal behoorlik tot stilstand geruk.

’n Buurvrou, Marlene Stauss, meen die kind klink dan kompleet soos ’n engel wat uit die hemel sing.

Die gr. 4-leerder vertel skamerig dat dit hom baie gelukkig maak om te sing.

Stilte

Sonder om te probeer spog, vertel hy hoe ’n video van hom twee jaar gelede, waar hy “We Are the World” van Michael Jackson gesing het, ook viral gegaan het.

Volgens sy pa, Andrew (33), het hulle reeds besef toe hulle klong ses jaar oud was, dat hy ’n baie, báie besonderse talent het.

Sedertdien was daar nog nooit weer stilte in die gesin Fillis se huis nie.

Pa Andrew vertel gister vir Son: “Tans kry Sayde geen formele opleiding nie.

“Ek het hom altyd geleer hoe om lirieke te leer en te improvise wanneer dit by note­ kom, maar meestal verbaas hy ons met hoe goed hy ’n song kan aanleer en sy eie maak.

“Hy is tans in die Sondag­skool se sanggroep waar hy gewoonlik solo’s doen en hy tree gereeld op by die skool.

“Hy is ook tans in ’n sangkompetisie met Star Struck Records in die Paarl, waar hy baie goed vorder,” vertel Andrew.

Die appel val ook nie te ver van die boom nie, want Andrew werk as ’n musiekvervaardiger en is self in ’n rap-groep.

Die nederige seuntjie sê hy geniet dit om musiek te maak saam met sy ouers, wat albei goed kan sing.

Sayde, die oudste van drie kinders, vertel dit neem hom minder as twee dae om ’n song met lirieke, toonhoogte en beats aan te leer.

“Ek leer elke tweede week by die kompetisie waarin ek tans is, verskillende genres, maar pop music is my favour­ite. Ek het nie juis ’n favourite artist of song nie en luister maar na wat nuut is of waarna my pa en ma luister.

Eerste

“Ek kan op die oomblik niks instrumente speel nie, maar ek wil graag leer om ’n piano te speel.
“Ná skool wil ek ’n loopbaan maak uit musiek en saam met my ouers werk ek hard daaraan,” vertel Sayde skaam.

Andrew voeg by dat sy seun se opvoeding vir die gesin eerste prioriteit is, maar dat hulle Sayde ten volle met musiek ondersteun.

Die pa meen dis duidelik dat dit sy kind se droom is  om te groei in musiek en daarvan ’n loopbaan te maak.

“Ek kan hom net bystaan waar ek kan in terme van vocal training en so meer.

“Maar hy het die talent en ons is so trots op hom.

“As geleenthede aan die deur kom klop, sal ek hom dit help oopmaak.

“Sayde is ook daai tipe seun wat nie gou opgee nie en  hy fokus hard op ’n song om dit perfek te laat uitwerk,” vertel Andrew.

Andrew en Sayde het duidelik ’n hegte bond. Hy hoop net dat sy klong wilskrag sal behou en hard sal bly werk om sy droom nog eendag te bewaarheid.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters