2 maande gelede
Stank by skool ’n kopseer
Ongesond: Kindertjies moet verby die rioolafval loop om by die toilette uit te kom.  ~ Jonathan Lestrade

DIE reuk is so erg dit kan regdeur ’n masker – of sommer twee – geruik word.

Ouers van die Primêre Skool Apex in Eersterivier sê hulle is bekommerd oor hul kindertjies se gesondheid nadat ’n nabygeleë riool­pyp ineengestort en die afval na die skool gevloei het.

Nomonde Siwisa, ’n ouer, vertel dat haar meisietjie haar van dié morsige situasie ingelig het.

Toe Son die skool saam met Siwisa besoek het, was ’n lid van die distriksdepartement ook daar om die erns van situasie te beoordeel.

Siwisa verduidelik die reuk wat tydens die besoek geruik kon word, is veel ligter is die dag tevore.

“Dit was erg. Die stink reuk het in die lug gehang.

“Nou imagine hoe dit vir die kinders en onderwysers was.

“Die poo het behoorlik vanuit die grond gebubble en langs die toilets op ’n stuk veld gaan lê.”

Die mammie sê haar groot concern is dat die kinders se speelterrein reg oorkant die poo- veld is.

“As ons as volwassenes nie die reuk kan hanteer nie, hoe moet die kinders voel?

“Behalwe dit, eet hulle pousetyd en daai goed bring mos vlieë.”

Sy sê wie ook al verantwoordelik is om die situasie reg te maak, moet dit tydens die skoolvakansie klaarmaak.

Bronagh Hammond, die woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, sê daar is onlangs ’n voorstel vir onderverdeling van riolering voorgelê. Dan kan daar aparte rioolleiding na die laerskool aangebring word, in plaas daarvan dat Apex een pyp met die skool langsaan moet deel.

Demp

“Die munisipaliteit het die hoofrioollyne skoongemaak en sedertdien was daar geen oorloop nie.

“Die munisipaliteit het glo aangedui dat hy materiaal sou voorsien om die reuk te demp, maar die langtermynoplossing is die onderverdeling van die grond en afsonderlike rioollyne,” verduidelik Hammond.

Volgens die Stad se mayco-lid vir informele nedersettings, water- en afvaldienste, Xanthea Limberg, is die oorvloei veroorsaak deur ’n ineengestorte rioolpyp in Greenshankweg in die Electric City-omgewing.

Limberg sê die Stad se water-en-sanitasieafdeling is besig met die saak en het ’n tydelike pyp geïnstalleer om rioolafval rondom die ineengestorte gedeelte te herlei.

“Sodra rioolvlakke in die lyn en mangat voldoende gedaal het, sal die departement met die herstelwerk begin,” sê Limberg.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters