10 dae gelede
Stad verloor vyf personeellede in een week
JP Smith het werkers geloof wat in moeilike omstandighede moet werk.  ~ Malherbe Nienaber

DIE Kaapstadse stadsraad se veiligheid-en-sekuriteitsdirektoraat het dié week vyf personeellede weens Covid-19 verloor.

Altesaam nege aktiewe personeellede van dié afdeling is nou al sedert Maart verlede jaar aan die virus dood.

Die Stad Kaapstad het die afgelope week afskeid geneem van Paul Oliver en Anthony Standaar van die Kaapstadse verkeersdienste, Tania van de Vent van wetstoepassing, Elisha Xolile Lupondo van rampbestuur, Makosandile Mbhokhwe en Nolitha Okolo van brand-en-reddingsdienste en Charlene Moses van metropolisie.

Die onlangs afgetrede wetstoepasser Frederick Snyders het ook sy stryd teen die virus verloor.

JP Smith, mayco-lid vir veiligheid en sekuriteit, sê in ’n verklaring Covid-19 het die veiligheid-en-sekuriteitsdirektoraat swaar getref weens die noodsaaklike aard van hul werk.

Sedert Maart is 797 personeellede positief getoets, met 643 wat daarvan herstel het. Tans is 136 werkers besmet, van wie sewe in die hospitaal is.

Smith loof die werkers, wat in moeilike tye steeds dienste gelewer het.

“Ons gedagtes en gebede is met personeellede wat teen die virus veg, maar ook dié wat ondanks die alomteenwoordige en verhoogde risiko vir blootstelling steeds dag ná dag opdaag,” sê Smith.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters