5 dae gelede
Stad sê trok nie van syne
DOOSKISTE: Die lorrie is Saterdag by die Somerset-Wes-weegbrug afgetrek.  ~ Peter Abrahams

DIE druk op kremato­riums weens corona­virus-verwante sterfgevalle veroorsaak nou dat sommige begrafnisondernemings lyke in ander provinsies gaan laat veras.

Verkeersbeamptes het Saterdag ’n oorlaaide lorrie met 106 liggame by die Somerset-Wes-weegbrug afgetrek.

By verdere ondersoek is ontdek die trok was op pad na Gqeberha, waar die lyke veras sou word.

’n Tweede lorrie is geroep om van die lyke op te laai voordat beide voertuie verder na die Oos-Kaap gereis het.

Son verneem veral privaat krematoriums is onder hewige druk weens corona-virus-verwante sterfgevalle.

Boonop dring kliënte daarop aan dat hul geliefdes binne ’n week veras moet word.

Verbonde

Dr. Zahid Badroodien, die Stad Kaapstad se mayco-lid belas met gesondheid, sê egter hul fasiliteite cope nog onder die druk.

Volgens hom operate hul krematoriums nou op ’n 24 uur-basis om alle agterstande uit die pad te kry.

Badroodien sê die lorrie wat Saterdag in Somerset-Wes afgetrek is, is nie aan die Stad Kaapstad verbonde nie.

Hy sê miskien het die lyke van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement se fasiliteite gekom.

Die provinsiale minister van gesondheid, dr. Noma­french Mbombo, sê egter hulle het geen kremato­rium-fasiliteite nie.

“Krematoriums en begrafnisdienste in die metro val almal onder die Stad,” sê sy.

’n Eienaar van His Will-begrafnisdienste, Brendon Cozett, sê hulle is die laaste paar maande onder hewige druk tydens die derde vlaag van die pandemie.

Volgens hom maak hy gebruik van private krematoriums wat ook onder groot druk is weens die pandemie.

“Dis ’n baie groot kopseer, want daar is geen alterna­tiewe nie,” voeg hy by.

“Ons het egter nog nie so ver gekom dat ons lyke in ander provinsies moet gaan veras nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters