Verlede maand
Stad se sake lyk goed – Plato
Uitdagings: Dan Plato praat oor die stand van sake in Kaapstad.  ~ Jonathan Lestrade

TERWYL die regering Suid-Afrika in die steek laat en die kredietgraderingsagentskap Moody’s die land verder afgegradeer het, lyk geldsake in Kaapstad nie te sleg nie.

Plundery en wetteloosheid in KwaZulu-Natal en Gauteng het die land onlangs in ’n wurggreep beetgehad en taxi-geweld het Kaapstad ook geruk.

Tog meen Kaapstad se burgemeester, Dan Plato, daar is iets om na uit te sien.

Plato het in sy raadstoespraak gesê Moody’s het die Moederstad onlangs geprys vir sy inkomstekoers van 98,9%.

“Dié hoë syfer is ongeweënaard vergeleke met ander munisipaliteite in Suid-Afrika.”

Kaapstad is ook die sewende opeenvolgende keer in Consulta Citizen Satisfaction se 2020 Index aangewys as die mees betroubare metro in die land.

Plato het verwys na die Stad Kaapstad se prioritisering van bou- en konstruksie-aansoeke en dat dié projekte 40 000 werksgeleenthede sal skep.

Onderbrekings

Plato sê met verwysing na die taxi-geweld: “Lewensverlies is gely weens gierigheid en dit is onaanvaarbaar. Die binnegevegte tussen twee taxi-verenigings het verwoesting gesaai in ons openbare vervoerstelsel.

“Die treinstelsel sukkel ook en meer pendelaars is afhanklik van openbare vervoer.”

Plato sê inwoners benodig ’n werkende taxi-vervoerstelsel, nie verdere ekonomiese onderbrekings nie.

Hy het gesê die Stad se kontantvloei lyk goed en moenie met ander metro’s s’n vergelyk word wat swak vaar nie.

Oor die geveg teen Covid-19 sê hy: “Ons vaar ook goed met die inentingsveldtog en alle mense vanaf 18 en ouer kan geregistreer word.”

Plato sê verder: “Altesame R10 miljard sal bestee word aan fase 2A van die geïntegreerde openbare vervoerplan.

Die konstruksiewerk hiervoor sal 7 206 werksgeleenthede skep.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters