5 maande gelede
Stad 'reg vir reën’
moontlikheid: Die Stad Kaapstad sê hy is gereed vir winter­reënstorms.FOTO verskaf  ~ 

DIE Stad Kaapstad sê hy is voorbereid vir poten­siële winterreënstorms en oorstromings, wat tot die vernietiging van infrastruktuur kan lei.

Dié boodskap kom ondanks die nypende droogte – die ergste wat die Wes-Kaap in langer as ’n eeu beleef.

Met die naderende wintermaande is alle inwoners se hoop wel gevestig op goeie reën om die droogte-siklus te breek.

Die Stad se mayco-lid belas met veiligheid, sekuriteit en maatskaplike dienste, JP Smith, sê die raad se taakspan gemoeid met storms en rampe het sy jaarlikse risiko-assessering voltooi.

Hy het verduidelik die doel was om die impak van winterreënstorms te verminder.

Volgens Smith is 29 plakkerskampe, veral dié langs die N2-snelweg en in Khayeli­tsha, as hoërisiko-gebiede geïdentifiseer.

“Sommige van dié behuising is geleë in vleilande, dammetjies en natuurlike waterbronne en moet na hoër grondgebiede verskuif word.

“Dele van die N1, N2 en R300 is ook as hoërisiko-gebiede geïdentifiseer.

“Padwerke om dié risiko te verminder, is aan die gang.”

Hy sê verskeie departemente is in die proses om dié risiko’s te verminder en doen tans algemene instandhoudingswerk. Dit sluit die skoonmaak van stormwaterdreine en rivierstelsels in.

Smith het verduidelik: “Ons het nog geen duidelikheid gekry oor hoe die winterreënval in die komende winter gaan wees nie.

“Die rampbestuursentrum wag nog vir ’n langtermyn-weervoorspelling van die Suid-Afrikaanse Weerdiens.”

Hy sê verder die Kaap het weens die knellende droogte ’n desperate behoefte aan reën dié winter.

“Maar dít kom ook met sy eie uitdagings. Daarom is dit belangrik dat almal hul deel doen om te verseker dat ons reg is vir die winter en hopelik reën.”

Hy het bygevoeg hulle is in verbinding met die South African­ Social Security Agency (Sassa) om te verseker dat maatskaplike verligting so gou moontlik verskaf kan word waar dit ook al dalk nodig sou raak.

Sassa het van die rampbestuursentrums oorgeneem ten opsigte van die koördinering van rampverligting.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters