Verlede maand
Stad op hol oor kaal Eva
VERWARD: Die onbekende vrou is Dinsdag in Langstraat opgemerk waar sy ’n bottel water van ’n tafel geneem en net weggestap het. Foto’s: ASTRID FEBRUARIE  ~ 

NES die Bybelse Eva het sy poedelnakend deur die strate geslenter.

Maar anders as die Eva van ouds, het sy darem ’n paar tekkies aangehad.

Bloed en tekkies. Dit klink dalk soos die titel van ’n horror movie, maar dis ál wat ’n volkome naakte vrou Dinsdagaand in die Kaap aan haar lyf gehad het.

Gedwaal

Die kaal vrou het Dinsdagaand almal op die hoek van Lang- en Bloemstraat in die Moederstad tot stilstand gebring toe sy skielik heen en weer oor die strate gestap het.

Mense se monde het oopgehang en almal se oë het gedwaal na die vrou wat met ’n vreemde kalmte die pad oorsteek met bloed wat agter teen haar rug afstroom. Dit het gelyk asof sy nie weet wat om haar aangaan nie.

Die onbekende vrou het sommer ook ’n bottel water gevat wat op ’n tafel was waar ’n paartjie gesit en gesels het.

Die paartjie het so groot geskrik toe die vrou met die bloedvlekke aan haar gesig haar hand uitsteek en die bottel water van die tafel neem, hulle het nie eens ’n kans gehad om te reageer nie.

Die naakte vrou het weggeloop en vir ’n kort rukkie oor Langstraat gedraf en in Bloemstraat afgestap.

’n Paar minute later­ het twee polisiebeamptes op motorfietse by die toneel opgedaag waar voetgangers beduie het in watter rigting die kaalbas-vrou gestap het.

Enige iemand met inligting kan kapt. Ezra bel by 017 604 8318. Die inligting sal vertroulik bly.

Intussen het Mo Hendricks, bestuurder van veiligheid en sekuriteit in die Stad Kaapstad se Sentrale Stadsverbeteringsdistrik (CCID), bevestig ’n lid van die publiek het hulle kantore 17:55 gekontak en hulle ingelig oor die kaalstert-vrou in Langstraat se omtes.

“Die boodskap is daarna aan ons beamptes vir openbare veiligheid (PSO) in die omgewing deurgegee, en twee beamptes het die vrou teëgekom wat teen ’n vinnige pas by die kruising van Lang- en Bloemstraat gestap het.

“Hulle het opgemerk sy was gewapen met ’n mes en bloed het teen haar rug afgeloop,” verduidelik Hendricks.

Volgens Hendricks het hulle onmiddellik die hulp van ’n vroulike beampte van die CCID vir openbare veiligheid gevra om hulp te verleen weens die sensitiwiteit van die saak.

Patrollie

Hulle het ook die hulp van die polisie ingeroep.

“Terwyl die PSO’s op back-up gewag het, het die vrou hulle ontwyk en verdwyn.

“ ’n Waarskuwing is uitgereik vir ander PSO’s op patrollie, maar sy is nie weer gesien nie,” sê hy.

In hierdie stadium is dit nie duidelik wat met die vrou gebeur het en hoe sy dit reggekry het om so kaalstert soos mis voor die son te verdwyn nie.

Kaptein FC van Wyk, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, sê daar is geen saak geregistreer van ’n aanranding wat met die betrokke voorval verbind word nie.

“Die polisie versoek lede van die publiek om inligting te verskaf om vas te stel wat met die vrou gebeur het,” voeg Van Wyk by.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters