Verlede jaar
Staatskaping: Tyd vir verset
tel ons... Na verwagting sowat 15 000 werkers sal vandag in die Kaapse middestad betoog.Foto ter illustrasie: jonathan lestrade  ~ 

“VANDAG is die begin van die einde daarvan dat die opperdiewe die land so plunder.”

Só het die sekretaris van Cosatu in die Wes-Kaap, Tony Ehrenreich, gister belowe.

Om dié punt te stel, het Cosatu ’n landwye staking vir vandag gereël in die hoop om die land te bevry van state capture.

Business Leadership SA (BLSA) het ook gevra dat werkers toegelaat word om hul reg om te staak uit te oefen.

Dis die eerste keer in Suid-Afrika se geskiedenis dat ’n werknemers­organisasie ’n nasionale staking ondersteun.

BLSA sê in ’n verklaring: “Ons #BusinessBelieve-veldtog beloof om korrupsie in ál sy gedaantes te ver­nietig, hetsy in die openbare of privaat sektor.

“Ons versoek ons lede om hul werknemers toe te laat om hul reg om te staak, kragtens die wet uit te oefen.”

Ehrenreich het gemaan dat die staking net die begin van hul stryd teen die opper­diewe is, wat ook lede van die einste BLSA insluit.

Hy het gesê: “Ek dink die werkgewers besef dat as ons die stryd teen Zuma-beheerde diefstal nie ernstig ag nie, sal ons in groot moeilikheid beland.

“Maar hulle moenie dink ons weet nie dat baie van hulle korrupsie en staatskaping ondersteun nie.

Binnekort

“Daarom wil (die Wes-Kaapse premier) Helen ­Zille nie hê dat die politieke partye se geldskieters geïdentifiseer moet word nie.

“Nes ons nou teen Zuma en die Guptas sal betoog, sal ons binnekort teen die DA-beheerde Stad Kaapstad en Wes-Kaapse ­regering betoog.

“Dít is die begin van ’n stryd teen korrupsie in ons land en teen die diewe wat die inwoners besteel.”

’n Woordvoerder van die Golden Arrow-busdiens, Bronwen Dyke, het gesê hulle sal die diens so normaal moontlik bedryf.

“Ons sal alles in ons vermoë doen om by ons rooster te hou, maar dis baie moeilik om te voorspel hoeveel van ons werkers aan die staking sal deelneem,” het Dyke gesê.

Metrorail se streek­bestuurder, Richard Walk­er, sê in ’n verklaring werknemers wat nie gereël het om deel te neem nie, word verbied om te staak.

Betaal

Enige deelname is op ’n geen-werk-geen-betaling-grondslag, lui die ver­klaring.

Die voorsitter van die ­Retreat Taxi Association (RTA), Jay-Jay Maans, het gesê geen van hul lede staak nie.

“Wat ons betref, is dit ’n normale dag. As hulle (die stakers) ons voertuie wil gebruik, moet hulle betaal daarvoor, want ons is nie politici nie, ons is sakemense.”

Na verwagting sal sowat 15 000 stakers in die Kaapse middestad betoog.

’n Memorandum sal by die kantoor van Metrorail se moedermaatskappy, die Passenger Rail Agency of SA (Prasa), afgelewer word.

Daarna sal hulle nóg een aan die parlement oor­handig.

Cosatu se vernaamste vakbonde is die:

  • Nasionale vakbond vir opvoedings-, gesondheids- en verwante werkers (Nehawu): 277 317 lede;
  • Nasionale vakbond vir mynwerkers (NUM): 270 649 lede;
  • SA Demokratiese Onderwysersunie (Sadou): 248 556 lede;
  • Police and Prisons Civil Rights Union (Popcru): 154 008 lede; en
  • SA Vervoer- en Verwante Werkersvakbond (Satawu): 152 254 lede.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters