Verlede maand
Staat se salarisverhoging g’n sege
Geen sin nie: Die Kaapse Sakekamer sê die regering moes ander belangriker kwessies oorweeg het, soos werkloosheid en ’n swak ekonomie.  ~ _netwerk24

DIE 1,5%-salarisverhoging wat staatswerkers gekry het, gaan niks baat nie.

Dís die mening van die Kaapse Sakekamer nadat vakbonde die regering se aanbod aanvaar het. Dit gaan die land se belastingbetalers R18 miljard kos.

Die sakekamer se president, Jacques Moolman, meen die ooreenkoms wat die regering met vakbonde onderteken het, is geen oorwinning nie.

Moolman sê die verhoging versuim om die land se prioriteite in hierdie moeilike tye in ag te neem.

Volgens hom het die oorspronklike aanbod van 1% sin gemaak.

Hy vra: “Hoekom moet staatswerkers, wie se prestasie meer ’n hindernis as hulp is, in die geval van polisiëring en opvoeding, wat ’n algemene skande is, met meer geld vergoed word?”

Verwoestend

Volgens Moolman het staatswerkers in die afgelope dekade salarisver­hogings van 40% geniet.

Dis glad nie die geval in die privaat sektor nie, voeg hy by.

Moolman sê verder om nou aan staatswerkers se unies in te gee, is nie net dwaas en verwoestend nie, dit lyk ook na politieke doelmatigheid.

Moolman voorspel verder die vakbonde wat munisipale werkers verteenwoordig, sal ook nou hul way kry.

En dit sal die land se ekonomie verder beskadig, reken hy.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters