8 dae gelede
Staat kan ons skat begrawe
VEREER: ’n Versoek is ingehandig om die ikoniese aktrise Shaleen Surtie-Richards ’n provinsiale begrafnis te gee.  ~ Gallo Images

SHALEEN Surtie-Richards is ’n national trea­sure wat diep spore in die vermaaklikheidsbedryf getrap het – so diep, sy verdien ’n amptelike provinsiale begrafnis.

Dís die algemene gevoel onder Suid-Afrikaners nadat die ikoniese aktrise Maandag by ’n gastehuis in Edgemead gesterf het.

Cameron Dugmore, leier van die opposisie in die Wes-Kaap, het aangedui dat hy die premier van die Wes-Kaap gaan vra om ’n versoek aan pres. Cyril Ramaphosa te stuur om die legendariese aktrise met ’n amptelike staatsbegrafnis te vereer.

Die kantoor van premier Alan Winde het bevestig dat hulle versoeke gekry het om die geliefde Shaleen ’n amptelike provinsiale begrafnis te gee. Hy het bygevoeg dat hy met die bedroefde familie se woordvoerder, Alistair Izobell, hieroor in verbinding sal tree.

Die premier verduidelik: “My kantoor het versoeke gekry om Shaleen Surtie-Richards ’n provinsiale begrafnis te gee.

“Hoewel ek ten volle saamstem met hierdie versoek, moet mense kennis neem dat hierdie besluit van die familie af moet kom. My kantoor gaan met die familie oor hul wense praat.”

Izobell het aan Son bevestig hy is in gesprek met Winde se kantoor en met Anroux Marais, provinsiale minister van kultuursake en sport.

“Ons het aansoek gedoen om Shaleen te vereer met ’n kategorie twee-begrafnis. Ons wag nou op pres. Ramaphosa om binne die volgende 24 uur uitspraak oor hierdie versoek te lewer.”

Baie mense in die sosiale media voel dit is te laat vir die regering om nóú in te spring. Lizz Meiring het op Facebook geskryf hoe die regering kunstenaars daaglik in die steek laat.

Royalties

“Shaleen het ’n dokter in Kaapstad gesien oor sy so siek was. Die dokter wou haar onmiddellik laat opneem. Sy het eenvoudig nie geld gehad nie. Dit is die aaklige waarheid.”

Lizz het bygevoeg dat as Shaleen haar regmatige royalties betaal is vir al die rebroadcasts van haar briljante werke, sou sy dalk die hospitaalgeld kon betaal.

Simone Heradien, die kommunikasie- en handelsmerkbestuurder van die Kunstekaap-teater, meen dit is nou nutteloos om Shaleen ’n staatsbegrafnis te gee.

“Werk het opgedroog vir Shaleen en die drakoniese lockdown-maatreëls het dinge net vererger.

“Haar vriende en neef moes vir haar kos koop, vir haar chroniese medikasie betaal en hulle moes haar met haar huislening ook help. Die regering is te traag om sukkelende kunstenaars te help.”

Haar begrafnis sal Sondag 14:30 in die Durbanville Memorial Park plaasvind.

Kragtens Covid-19-regulasies mag net 100 mense bywoon. Daar sal wel ’n regstreekse uitsending van die diens wees.

“Hierdie is ’n geleentheid om ’n legendariese aktrise se bydrae tot die kunste te embrace. Dit is ’n positiewe gebaar en ons wil haar as ’n bruin vrou reward vir haar besondere goeie werk wat sy gelewer het,” sluit Izobell af.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters