2 maande gelede
Spuit stuit saak
Die ordonnans sit Ameerudien Peters se boeie terug nadat hy gesê het sy maag pyn. Foto: ASTRID FEBRUARIE  ~ 

AMEERUDIEN Peters se loopmaag het gister die hof toegemaak.

Sy saak is tot vandag uitgestel.

Peters en sy meisie, Abigail Ruiters, loop hof vir die moord op Jeremiah Ruiters (1) en die mishandeling van sy twee ouer sussies.

Peters word ook daarvan aangekla dat hy die seuntjie verkrag het.

Jeremiah is op 12 Junie 2017 by die Factreton-kliniek dood verklaar nadat Peters met hom daar opgedaag het.

Peters se maagpyn kom ’n dag nadat Cameron Morgan, die ondersoekbeampte, getuig het oor die noodlottige dag.

Adv. Alan Koester, Peters se lawyer, het dit onder die hof se aandag gebring dat sy kliënt nie lekker voel nie en dat hy weens sy aandoening nie genoeg slaap gekry het nie.

Koester het die hof gevra of sy kliënt maar kan aandui wanneer hy die toilet tydens die verrigtinge sou nodig hê.

Maar regter Monde Samela het nie gemaklik gevoel daarmee om verder te gaan voordat Peters mediese hulp kry vir die maagongesteldheid nie.

Die hofordonnans het dit ook onder die staatsaan­klaer, Maria Marshall, se aandag gebring dat die storie hom ongemaklik maak omdat hy die enigste ordonnans in die hofsaal was.

Samela het dit in ag geneem en besluit om die saak liewer tot vandag te laat oorstaan.

“As enige iets hier sou gebeur, kan die ordonnans nie verantwoordelik gehou word nie, want hy het sy ongemaklikheid onder die hof se aandag gebring.

“Ons kan nie die risiko neem en voortgaan nie.

“Verder moet die beskuldigde dokter toe geneem word,” het Samela verder beslis.

Die saak gaan vandag voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters