6 dae gelede
Spoorweg veg: Gemeenskap werk vir hul veiligheid

DIE veiligheid van inwoners is belangrik.

Dít is waarom die Matroosfontein-buurtwag Sondag met swart sakke en gras­snyers besluit het om die bos tussen Matroosfontein en Bishop Lavis te sny en daar skoon te maak.

Dit was iets wat hulle vir Mandeladag beplan het om hul omgewing skoon te maak.

Dié skoonmaak was ook om te verseker dat mense veiliger voel as hulle oor die veld stap op pad huis of werk toe.

Gerhardt Albertyn (58), voorsitter van die buurtwag, sê dat baie mense oor dié spoorlyn stap en baie is al daar beroof.

“Ons het besluit om met ons patrollies van 06:00 tot 09:00 in die oggende te begin sodat mense veilig huis toe kan stap en ook in die middag.

“Ons het besluit om hier ook skoon te maak. Die gras was baie hoog en dit blyk dat skelms in die bosse wegkruip en mense voorlê.”

Albertyn sê die ondersteuning van die gemeenskap is baie welkom en veiligheid in Matroosfontein is baie belangrik.

“Ons almal kan die oë en ore van Matroosfontein wees en mekaar beskerm,” sê hy.

Albertyn sê in die proses het hulle afgekom op spoorlyn-clamps wat in sakke in die bos versteek was.

“Dit lyk hulle haal dit van die spoorlyn af en dan steek hulle dit weg om dit later te kom haal. Ons het dit aan die polisie oorhandig.”

Clinton Treu, ’n inwoner, sê as die helfte van Matroosfontein opgedaag het, sou hulle meer kon gedoen het. Maar dié wat opgedaag het, het hul deel gedoen.”

Spangees

Charles Esau, raadslid van Bishop Lavis, het ook die inisiatief bygewoon en gehelp skoonmaak. Esau sê hy het vir die opruimers handskoene, swart sakke, maskers, hand sanitizer en iets om te eet aan die span verskaf.

“Die spangees was baie lekker en ek dink van hier af sal daar nóg dinge gebeur. Meer mense sal aansluit en ’n verskil kom maak,” sê hy.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters