12 dae gelede
Spoorlyne bly teiken vir skurke
Onnodig: Spoorlyne word deurentyd geteiken.  ~ Verskaf

DIE DA in die Wes-Kaap is diep bekommerd oor die vandalisme wat op spoor­lyne voortduur.

Ricardo Mackenzie, die DA se woordvoerder oor vervoer en openbare werke, sê hulle is bekommerd oor die invloed hiervan op openbare vervoer.

Laas Sondag by die Valsbaai-stasie het skurke kabels gesny en toe ’n stuk kabel op die oorhoofse kragkabel gegooi. Dié hoogs gevaarlike fireworks het skade van meer as R1 miljoen aangerig.

Mackenzie sê ondanks Prasa en Metrorail se versekering dat hulle besig is om dinge reg te maak, gaan die misdaadbedrywighede net voort.

Gebeure

“Dié aktiwiteite is een van baie redes waarom treine sedert 2019 net 151 keer per dag ry in vergelyking met 444 ritte per dag vroeër.”

Mackenzie sê gebeure soos hierdie kan veroorsaak dat daar later geen treindiens is nie.

“Baie mense ry bus of taxi, maar dit beteken nie ons kan toelaat dat treindienste aanhou om agteruit te gaan nie.

“Baie pendelaars is afhanklik van treine omdat dit die goedkoopste manier van vervoer is.”

Volgens Mackenzie wil die DA in die Wes-Kaap sy nasionale ampsgenote help om infrastruktuur te herstel.

Nana Zenani, senior woordvoerder van Metrorail in die Wes-Kaap, sê werk is steeds aan die gang om die lyne reg te maak..

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters