Verlede maand
‘Spook’ slaap in haar bed
stryd: Christine Bussack sê haar man, Michael Bussack, lewe mos nog en is glad nie ’n spook soos wat Home Affairs beweer nie. Foto’s: JONATHAN LESTRADE  ~ 

’N VROU van Manenberg deel ’n bed met ’n spook en dié spook is haar man!

Dit voel vir Christine Bussack (59) asof haar man, Michael (55), nie bestaan nie omdat sy status by binnelandse sake wys hy is dood.

Sy pak verontwaardig uit: “Dis ’n nagmerrie. My man lewe nog, maar is dood op papier.

“Ons sukkel nou al sedert 2013 om sy status reg te maak, maar niemand help ons nie. Ons is in en uit, op en af na binnelandse sake se kantore in die Kaap, maar daar kom niks van al die papierwerk en onderhoude wat hy al met hulle gehad het nie.”

Christine sê sy en haar man is in 2012 by binnelandse sake dood verklaar.

“Ek is in 2012 geretrench en moes gaan teken om my UIF te kry, maar daar het hulle vir my gesê hulle kan my nie help nie omdat dit op die stelsel wys dat ek oorlede is.

“Ek het onmiddellik na die Home Affairs-kantoor in die Kaap gegaan en toe sê hulle vir my daar ek en my man is dood verklaar in Oos-Londen.

“Ek was baie verbaas dat ons dood verklaar is.

“Dit beteken mos dat daar mense is wat ons ID-nommers deel.”

Christine sê sy het vir hulle bewyse geneem en haar status is in 2012 reggemaak, maar haar arme man sukkel steeds om lewendig gemaak te word.

“Ek het my man eendag in 2013 uit die werk uit gehou sodat ons binnelandse sake se kantore toe kon gaan.

Waglys

“Hulle het vir hom gesê hy is dood verklaar. Ek sê toe vir daai vrou agter die toonbank; ‘Maar hier’s hy! Kyk, hy lewe. Hoe maak ons nou?’ ”

Christine sê al het hulle nou al ’n hol voetpad na home affairs gestap, is daar nog g’n lewe nie.

“Dit maak my baie hartseer omdat ons so graag ons eie huis wil kry. Ek is op 1991 se waglys.

“Ons woon al 10 jaar as backyarders. Ons kan nie ’n huis kry nie omdat my man dood verklaar is.

“Wie wil nou nog op amper 60 op ander mense se genade bly?

“Ek het nie eens ’n regte toilet nie.”

“Dit is nou al jare wat ons sukkel. As my man afgedank word of hulle sit hom op early re­tirement, dan sal ons net die inkomste hê wat ek kry van die grant.

“Ons kan nie meer so lewe nie,” kla sy.

Siyabulela Qoza, woordvoerder vir die minister van binnelandse sake, Aaron Motsoaledi, het ontvangs van Son se navraag erken.

Hy het belowe om wel later kommentaar oor die kwessie te gee.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters