14 dae gelede
Spoghuis nou net ’n murasie
STRYD: Die brandweermanne het die brand met groot moeite onder beheer gekry.  ~ Leon Knipe

’N SPOGHUIS ter waarde van miljoene is Sondagaand in ’n brand in Pinelands verwoes.

Die voorval het 20:15 in Peak-rylaan gebeur toe die rietdak van die huis aan die brand geslaan het.

Die eienaar van die huis is tans oorsee en het die huis uitverhuur.

Volgens ’n buurman het hulle hulpkrete gehoor en gesien die huis is aan die brand. Hulle het probeer help, maar die vlamme was reeds te erg.

Hulle het toe die brandweerdienste gebel.

Die buurman vertel: “Omtrent agt brandweertrokke was op die toneel om die brand te blus en ook om te verhoed dat dit na ander rietdakhuise in die straat versprei.

“Die brandweerdienste het die ander huise se rietdakke natgespuit om te verhoed dat dié ook aan die brand slaan. Daar word vermoed ’n elektriese kortsluiting het die brand veroorsaak.”

Viene McShane, wat saam met haar man en twee kinders van vier en sewe jaar oud in die huis gewoon het, is ongedeerd, maar het ál hul besittings, klere en persoonlike dokumente verloor.

Die paartjie het op die dag van die brand in die huis ingetrek. Hulle het die huis vir die maand gehuur en sou begin Februarie na die buiteland verhuis het.

Die couple het baie klere en speelgoed van die gemeenskap ontvang.

McShane het die gemeenskap van Pinelands in die sosiale media bedank vir hul ondersteuning en hulp.

Stort

Volgens haar het een van die bure vir haar dogter klere gegee nadat sy poedelnakend uit die huis moes vlug.

Sy was besig om te stort toe die brand uitgebreek het.

ONTRUIM: Viene McShane en haar gesin moes inderhaas hul goedjies gryp. Foto: Leon Knipe

Volgens Jermaine Carelse, woordvoerder van die Stad Kaapstad se brandweer- en reddingsdienste, was die brandweerdienste van Epping Forest eerste op die toneel.

Carelse sê: “Ekstra brandweerlede moes ingeroep word om te help om die brand te blus.

“Die sterk wind het die brandweermanne se werk bemoeilik.

“Daar was 8 brandweertrokke en 39 brandweermanne op die toneel om te keer dat die vlamme na die ander huise met rietdakke versprei.”

Die brand is eers kort ná middernag geblus. Niemand is beseer nie.

BESKADIG: Die huis is lelik in die brand beskadig. Foto: Leon Knipe

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters