Verlede maand
Spietkop 'ry weg vir hulp ná ontvoering’
GETAWAY-KAR: Dit is die Hyundai-bussie wat in die ontvoering gebruik is.  ~ Foto Verskaf

DIE verkeersbeampte wat weggery het van die toneel waar ’n vrou laas week ontvoer is, het so gedoen “om alarm te gaan maak by die naaste polisiestasie”.

Son het Maandag berig oor ’n vrou (26) wat reg voor ’n traffic cop ontvoer is.

Die skokkende voorval het in Stock Road, Philippi-Oos, gebeur.

Die slagoffer is deur ’n verkeersbeampte gestop en terwyl hulle langs die pad gestaan het, het verdagtes in ’n wit Hyundai-minibus die vrou in hul voertuig geforseer en weggery.

Wayne le Roux, die Stad Kaapstad se waarnemende uitvoerende direkteur vir sekuriteit en veiligheid, het namens die verkeersbeampte bevestig twee voertuie het skielik in die voorval met die motoris laas week opgedaag en twee of drie verdagtes het in sy rigting beweeg.

“Hy het na sy patrollievoertuig beweeg om ’n oproep te maak vir back-up, aangesien hy ongewapen was. Verkeersbeamptes het die opsie om ’n vuurwapen te dra, al dan nie.

“In dié tyd het die aanvallers die slagoffer gegryp en op die R300 in die rigting van die N2 weggejaag.

Gevind

“Die verkeersbeampte het oor sy radio ’n noodroep om back-up gemaak, maar ook na die Philippi-Oos-polisiekantoor gery om alarm te maak,” sê Le Roux.

Hy voeg by die beampte het saam met die polisie na die oorspronklike toneel teruggekeer waar hulle die slagoffer se voertuig gevind het.

Kort daarna is hulle in kennis gestel van ’n ongeluk waarin die getaway-kar betrokke was.

“Die metropolisie se taktiese reaksie-eenheid wat langs die R300 op patrollie was, is gewaarsku en die 34-jarige verdagte is opgespoor. Die slagoffer het hom positief geïdentifiseer,” sê Le Roux.

Hy voeg by die polisie ondersoek in dié stadium ’n saak van ontvoering.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters