13 dae gelede
Spes Bona-inwoners nóg kragloos
ENIGSTE LIG: Inwoners van Kalbaskraal het Vrydag weer begin tyres brand.  ~ Foto Verskaf

INWONERS van Kalbaskraal naby Malmesbury het Vrydag voortgegaan om tyres te brand en die ingang na die dorp versper.

Dit volg nadat inwoners kla hulle kry nie krag by Eskom sedert hulle na Spes Bona verskuif is nie.

Son het verlede week berig hoe inwoners van Spes Bona al sedert Augustus laas jaar vir krag wag.

Daar is 136 erwe vir mense beskikbaar gestel om op te gaan bly. Die waterpype en riool is aangelê, daar is toilette aangebring en mense het hul eie sinkhuisies opgerig.

Gedwing

Volgens die inwoners het Eskom elke keer ’n ver­skoning en niks word gedoen nie.

Inwoners het toe Donderdag begin tyres brand. Hulle sê hulle word gedwing om so op te tree omdat niemand na hulle wil luister nie.

Donderdagaand sou ’n vergadering met Eskom plaasgevind het, maar niemand het opgedaag nie.

Son het ’n brief gesien waarin staan dat ’n vergadering Dinsdag plaasvind. Die Swartland-munisipaliteit, die departement van menslike nedersettings, Eskom en vyf mense wat die inwoners van Kalbaskraal verteenwoordig, sal vergader.

Kyle Cookson, ’n woordvoerder van Eskom, het vroeër gesê dat Eskom vertragings ondervind om krag te installeer.

“Die begroting is goedgekeur en die materiaal is gekry. Ongelukkig veroorsaak kontraktuele uitdagings vertragings. Eskom vra om verskoning vir die ongerief.”

Volgens Cookson begin die kontrakteur einde Mei of begin Junie met die installasie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters