Verlede maand
Speedy wou blinde ou leer
Vreesloos: Luwie Links (52), ’n blinde man van Kraaifontein, soek geregtigheid nadat hy vir dronkbestuur opgesluit Is.  ~ Shantel Moses

“HIER kom daai blinde man wat vir dronkbestuur toegesluit is.”

Dit klink soos ’n siek grap. Maar dis presies wat Luwie Links (52), ’n blinde man van Kraaifontein, kort-kort moet aanhoor.

Links het die Stad Kaapstad en die minister van polisie voor die hof gedaag nadat hy ses jaar gelede verkeerdelik toegesluit is vir dronkbestuur.

Die spietkop Isaac Williams­ wat destyds die arrestasie gemaak het, het gister in die Kaapse hooggeregshof in die siviele saak getuig.

Volgens hom was hy en ’n kollega by ’n padblokkade naby Watsonia Park toe ’n bestuurder verbygejaag het. Hulle het die kar agternagesit, maar dit kort-kort uit die oog verloor.

“Die kinders wat in die straat gespeel het, het ons gewys waar die kar ingedraai het.

“Toe ons agter die huis kom, het die kar daar gestaan,” het Williams getuig.

Hy sê Links het hulle ge­nader, maar val-val by hulle uitgekom.

“Ek kon sien die man is blind. Ons het vir hom gevra wie die kar gery het en waar die driver is.”

Volgens Wil­liams het Links met ’n rits vloekwoorde losgetrek. “Ek het ook ’n lang mes van vyf sentimeter onder sy hemp gesien.”

Hy sê hy en sy kollega het toe besluit om Links toe te sluit.

Links se regsverteenwoordiger, adv. Eugene Benade, wou by Williams weet hoekom hy nie met ’n familielid van Links gepraat het nie.

Weerspreek

“Jy sien die man is blind en onder die invloed van alkohol, want daar was ’n partytjie by die huis, maar jy praat nie met die ander mense in die huis nie?

“Hoekom? Wou jy hom ’n les leer?”

Williams sê: “Ja, hy sal nooit weer op iemand vloek nie.”

Hy wou ook by Williams weet of hy weet hoe lank vyf sentimeter is.

“Is u bekend met meters en sentimeters?”

Williams het hom kort-kort weerspreek.

Van die stellings in sy hoofgetuienis het hemelsbreed verskil van die verklaring wat hy met Links se inhegtenisneming afgelê het.

Die voorval het op 30 Maart 2014 plaasgevind.

Links is na die Kraaifontein Polisiekantoor geneem en aangekla van dronkbestuur, besit van ’n wapen en kwaadwillige beskadiging van staatseiendom.

Toe hy op 1 April by die hof opdaag, is hy ingelig dat die saak uitgegooi is.

Links sê die vernedering van die voorval het hom van sy menswees gestrip.

Skikking

“Oral waar ek kom, maak mense jokes oor ek vir dronkbestuur toegesluit word.

“Ek is onregverdig behandel en toegesluit vir iets wat ek nie gedoen het nie.”

Die saak is tot vandag uitgestel vir ’n moontlike skikking buite die hof.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters