Verlede maand
Span march ver
bobaas: Die Primêre Skool Newfields se marching squad gaan oorsee. FOTO’S VERSKAF  ~ 

LEERDERS van die Primêre Skool Newfields se march­ing band is gekies om in Desember aan die World Marching Show Band-kompetisie in Thailand deel te neem.

Daar word kliphard fondse ingesamel sodat die kinders die wonderlike geleentheid kan aangryp.

Keharah (15) en Tyra (12) Hunter is onder die leerders wat Thailand toe gaan.

Hulle ouers, Nadeen en Reagan, vra die publiek se hulp sodat hulle dogters op die toer kan gaan.

“Ons is baie trots op hulle prestasies en sonder die hulp van die gemeenskap en besighede sal hulle nie die geleentheid kan kry om dié wonderlike ervaring te geniet nie.”

Die gesin woon in Hanover Park. Die area is berug vir bendebedrywighede.

Nadeen sê hulle probeer alles in hulle vermoë om hulle kinders van die strate af te hou en te keer dat hulle ’n prooi word van gangsterism en dwelmmisbruik.

“Hulle is baie toegewyd en lief vir die sport en leef behoorlik daarvoor.

“Die jong mense in ons gemeenskappe het elke dag baie uitdagings wat hulle in die gesig staar. Dié geleentheid sal baie goed wees vir hulle persoonlike groei en vir hulle toekoms.”

Volgens Nadeen kry hulle ’n gewone salaris en dit sal nie moontlik wees om te betaal vir alles nie.

Sy sê hulle kinders sal bitter graag die ervaring wil deurmaak om oorsee te toer en is baie opgewonde daaroor.

“Hulle is baie dankbaar oor die geleentheid.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters