5 maande gelede
Son huldig staatmaker JP Nel (55)
JP NelFOTO VERSKAF  ~ 

’N GROOT skok het Son getref toe een van sy jare lange redaksielede en staatmakers Woensdag skielik oorlede is.

JP Nel, voormalige hooftaalsub, is in ’n kamer in ’n huis in Boston aangetref.

Hy is na die Karl Bremer-hospitaal geneem, maar is later oorlede. Die oorsaak van sy dood is nog nie bekend nie.

Nel (55) is op 9 Julie 1963 in Loeriesfontein in die Noord-Kaap gebore en het op ’n plaas grootgeword.

Hy het joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch geswot en in 1988 by Volksblad in Bloemfontein gaan werk.

In 1996 is hy en sy familie daar weg. Hulle het In Somerset-Wes gaan woon en hy het by Huisgenoot gewerk.

Daarna het die gesin Nel in Boston, Bellville, gaan woon.

Humorsin

Hy het later vir Rapport gaan werk en toe bySon.

Nel het ook vroeër as radio-omroeper by die geselsstasie Punt Geselsradio gewerk.

Hy het in sy jonger dae graag tennis gespeel.

Nel sal onthou word as ’n sagmoedige reus met ’n skerp humorsin. Hy was baie geliefd onder sy kollegas en vriende.

Son se hoofredakteur, Neil Scott, sê Nel gaan baie gemis word by Son.

“Hy was ’n staatmaker soos min. Hy was passievol oor Son en sy werk as taalsub. Ons dink in dié tyd van rou aan sy familie, veral sy vrou, Annienne, en twee dogters, Margrethe (25) en Mia (21).”

Nel laat twee broers agter.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters