10 dae gelede
Soli loop hof ná hy ‘kid red’
hou hande: ’n Vrou en twee kinders neem saam met Soli deel van die betoging.  ~ 

DIE gewilde TV-persoonlikheid en kunstenaar Soli Philander is dié naweek gearresteer oor hy ’n vierjarige meisie na bewering uit “die kloue van ’n pedofiel” wou red.

Philander is Saterdag­oggend gearresteer toe hy saam met gemeenskapslede van Distrik Ses die gemeenskapsentrum Marion Institute bestorm het om die kind te bevry.

Hy is ure later vrygelaat en verskyn vanoggend in die hof.

Sy arrestasie ten spyt het Philander en ’n klomp ander mense gister weer voor die Marion Institute betoog.

Hy het aan Son vertel hy is gearresteer nadat die opsigter van die sentrum die polisie laat weet het hy “word vermoor”.

Volgens Philander is daar ’n hele klomp tikkoppe wat in die sentrum woon en vroue word al die afgelope sewe jaar in die sentrum toegesluit.

Philander sê hulle het al telkemale probeer om die kind te red, maar hul pleidooie val elke keer op dowe ore.

Hy vertel: “Dit gaan nou al hóé lank so aan.

“Ons was al by die polisie en die howe, maar ons word nie gehelp nie.

“Toe ons net mooi genoeg gehad het, het ons sommer self tot daar gegaan.

“Ons het geweet van die kind, maar niks is gedoen om die kind te red nie.

“Nadat ons daar was, het die opsigter die cops laat kom oor ons glo besig is om hom te vermoor.

“Hy het al hóéveel sake teen die mense in die gemeenskap en is ál een wat beskerm word.”

Philander sê hy het nou net mooi genoeg gehad van die dinge wat by die Marion Institute aangaan en hy wil dit self oorneem.

Sorg

“Dis tyd dat ons terugeis wat ons s’n is.

“Ek wil hê die gebou moet vir ’n jaar in my sorg geplaas word sodat hulle kan sien wat Soli doen om die kinders te help. Ek praat hier van óns kinders.

“Ek wil die sentrum ’n baken van hoop maak – vir ons mense en ál ons kinders.

“Die kinders sê genoeg is genoeg en ons ondersteun hulle.”

Philander voeg by hy is dankbaar vir almal wat ingespring het om te help om die kind na veiligheid te bring.

“Ek is baie bly noudat die kind veilig is.

“Dit gaan baie beter met my nadat Sharna Fernan­dez my laat weet het die kind is veilig.

Kennis

“Dit was soos woorde van die Here af toe ek hoor die meisie is na veiligheid gebring.”

Fernandez, die Wes-Kaapse minister van maatskaplike ontwikkeling, het bevestig die departement is Saterdagoggend vroeg van die situasie in kennis gestel. ’n Ondersoek is toe begin.

Fernandez het ook aan Son bevestig die meisie is ver­wyder en na ’n plek van veiligheid geneem.

’n Woordvoerder van die polisie, kapt. FC van Wyk, het ook bevestig ’n 59-jarige man (Philander) is gearresteer vir die oortreding van ’n beskermingsbevel en vir aanranding.

Van Wyk het bygevoeg die beskuldigde is met ’n waarskuwing vrygelaat en verskyn vandag in die Kaapse landdroshof.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters