13 dae gelede
Snoek nou nie meer soek
BLINKLYWE TERUG: Talle vissermanne is dankbaar dat die snoek weer in die Kaap loop.  ~ IAN BAARD

DIE blinklywe is in die Kaap.

Die snoek wat jare lank aan die Kaapse kus witweg was, het Maandag talle vissermanne verras deur ’n Kaapse draai te maak.

Vissermanne van Hawston, Hermanus en Gansbaai het hulle na Gordonsbaai se hawe gehaas en van daar na die blinklywe gaan soek.

Van die vissermanne van Hawston sê dié vis is meer as vyf jaar laas langs die Kaapse kus gesien. Hulle het net sover as die Weskus gekom en daarna weer koers gekies terug na die koue waters van Namibië.

Geseënd

Die snoek was tot ’n week gelede nog net volop aan die Weskus en vissermanne van die Overberg, Strand, Houtbaai en Kalkbaai moes daar gaan woon om ’n lewe uit die see te maak.

Die vissermanne wat met Son gepraat het, is dit eens dat die Here die snoeksluise vir hulle oopgemaak het sodat hulle weer geseënd kan wees.

Van die bote het Maandag tot 700 snoeke aan wal gebring. Die prys van die snoek uit die boot het R40 per vis gehaal. Die vissermanne hoop nou die weer speel saam sodat die blinklywe in die Kaap sal aanbly.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters