4 dae gelede
‘Sluit hom dié slag lank toe’
vermoor: Felicity Cilliers is in 2007 dood. Foto verskaf  ~ 

AS ’N mens kyk na die aard van Felicity Cilliers se beserings, was daar duidelik ’n direkte voorneme om die oorledene dood te maak.

Só het adv. Mbulelo Koti gister in sy voorvonnis-betoog aan die hof gesê.

Koti is die staatsaanklaer in die Cilliers-moordsaak.

Volgens die nadoodse ondersoek is Cilliers wreed verkrag en vermoor.

Die beserings op hulle eie was noodlottig. Tog is ’n mate van force gebruik om die beserings toe te dien.

Andrew Jordaan het Cilliers 12 jaar gelede naby Longlands in Vlottenberg verkrag en vermoor.

Die staat het in die verhoor aangevoer Jordaan het van 26 tot 30 Mei 2007 doelbewus onwettige seksdade met Cilliers gepleeg.

Cilliers is ook gewurg en met ’n klip of soortgelyke voorwerp oor die kop geslaan.

Jordaan het van die begin van die verhoor af onskuldig gepleit.

Regter Lister Nuku van die Kaapse hooggeregshof het hom egter op 9 Mei skuldig bevind.

Nuku het in sy uitspraak gesê as gevolg van die DNS-bewyse is hy oortuig die beskuldigde is die culprit in die saak.

Gister het Koti die hof daaraan herinner dat Jordaan nie ’n first offender is nie.

Jordaan is ook in 2009 skuldig bevind aan moord, maar daarvoor het hy net 10 jaar direkte tronkstraf uit­gedien.

Die ander sake waarby hy betrek is, is twee van opsetlike saakbeskadiging in 2003.

Die vonnisse in albei dié sake is vir drie jaar opgeskort.

Verder het Koti aan die hof gesê Jordaan het geen berou getoon nie. “Hy het besluit om met leuens vorendag te kom dat hy consensual intercourse met die oorledene gehad het en hy het geweier om sy version van die gebeure te gee.”

Koti het bygevoeg die moord op Cilliers is een van ontelbare voorbeelde van die vlaag van geweld teen vroue en kinders in Suid-Afrika.

“Die beskuldigde het geen respek vir vroue nie.

“Dít blyk uit sy vorige skuldigbevinding.

“Die slagoffer in sy vorige veroordeling was ’n vrou,” het hy bygevoeg.

Koti het ook aan die hof gesê die wrede manier waarop Cilliers verkrag en vermoor is, verplig die hof om die minimum voorgeskrewe vonnis van lewenslange tronkstraf op te lê.

Jordaan sal op 24 Oktober gevonnis word.

  • Intussen het die staat se hoofgetuie in die Terrible Joster-verhoor beweer hy kan nie onthou dat hy gesê het dat hy daar is om oor 12 sake te getuig nie.

“Ek kan nie onthou nie,” het hy getuig.

Die getuie se naam word weerhou.

Klagte

Hy getuig teen 12 vermeende lede van die Ter­rible Joster-bende, onder wie die vermeende bende­base Horatio Solomons en Elton Ely.

Die 12 beskuldigdes staan tereg op 71 klagte, insluitend moord en poging tot moord.

Die getuie het gister onder kruisondervraging gesê hy was betrokke by die poging tot moord op ene Toppie en ’n poging tot moord op Toppie se familie.

Maar die getuie kon nie vir seker sê of die twee insidente op een dag plaasgevind het nie.

“Ek kan nie ja of nee sê nie,” het hy beweer.

Onder kruisondervraging is hy ook gevra of dit moontlik is dat hy van die poging tot moord op Toppie en van sy familie gehoor het en nie betrokke was nie. Volgens hom is dit nie moontlik nie.

Die saak gaan vandag voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters