4 dae gelede
Sluier lig oor Zephany Nurse
hier’s sy: Miche Solomon is by baie lesers bekend as Zephany Nurse.  ~ 

UITEINDELIK het die shackles nou van haar enkels afgeval.

Vir 22 jaar het die wêreld haar net as Zephany Nurse geken.

Sy is die meisiekind wat twee dae ná haar geboorte op 28 April 1997 in die kraamsaal van die Groote Schuur Hospitaal uit haar mamma, Celeste Nurse, se arms ontvoer is.

Dit was ’n hartseerverhaal wat in die media opspraak gemaak het.

Almal het jare lank van die gesteelde baba geweet. Sy’t grootgeword as die meisie sonder gesig na wie haar biologiese familie omtrént gesoek het.

Hulle het selfs jaarliks haar verjaardag gevier.

En toe, in 2015, is Zephany eindelik gevind.

Weer het dit in die media opslae gemaak toe sy en haar biologiese suster mekaar by dieselfde skool ontdek het.

Die suster het agtergekom hoe baie hulle na mekaar lyk. Zephany se biologiese pa, Morné Nurse, het die vermoede opgevolg en met ’n cop gedeel.

Die steelma is toe in Februarie 2015 gearresteer.

In die baie omstrede hofsaak is ’n hofbevel bekragtig om die gesteelde meisie se identiteit te beskerm.

Sedertien het almal net Zephany se foto van haar as baba gesien.

Maar gister het Zephany eindelik haar eie identiteit teruggekry.

Ontmoet Miche Solomon ...

Dis die naam waarmee Zephany jare lank saam met haar steelma, Levona Solomon, gewoon het.

Gister het die Pretoriase hooggeregshof besluit om die tussentydse interdik te lig wat haar identiteit beskerm het.

Sy’t self ’n aansoek by die hof ingedien nadat ’n boek oor haar lewe geskryf is.

Dié boek, Zephany, sal deur Tafelberg Uitgewers uitgegee word.

Tevore het Zephany gesê dat sy haar nuwe lewe aanvaar het en sy’t peace met haar familie gemaak. Sy gaan visit gereeld haar ouma en oupa in Rocklands in Mitchells Plain en het ’n goeie verhouding met haar ouers, Morné en Celeste.

Spandeer

Gister was ouma Zephrah en oupa Adam Nurse omtrent opgemaak oor dié besluit.

Oupa Adam het aan Son gesê hy is baie excited, terwyl ouma Zephrah meer in detail gegaan het.

Volgens die ouma het dit omtrent vyf jaar gevat om hulle verhouding met Zephany op te bou.

Sy vertel: “Nou is sy amper elke naweek hier. Ons bring tyd deur saam met haar en ons agterkleinkinders, en ons geniet dit.”

Oor die besluit om haar gesig vir die wêreld te wys, sê ouma Zephrah: “Dit was haar besluit en ons ondersteun wat sy doen, want sy is ’n grootmens.

“Ons het nooit pressure op haar gesit om dit te reveal nie. Sy het die perfekte tyd gekies – toe sy haar lewe soos dit is, aanvaar het.

“Haar pa het haar destyds haar geboortesertifikaat gewys met haar regte naam op en sy was happy oor dit.”

Baby Zephany Nurse het intussen grootgeword en is vandag self die ma van twee kinders.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters