10 dae gelede
Slimkop gekniehalter
werk hard: Patrick Pokpas se toekoms lyk nie so rooskleurig nie, ondanks sy goeie uitslae. Foto: KEITH MEYER  ~ 

CALITZDORP. – Hy is een van die skitter-sterre van die Hoërskool Calitzdorp se onlangse matriekeksamen.

Maar nou is hierdie ster besig om te verskiet omdat hy ná sy puik uitslae in ’n doodloopstraat beland het.

Patrick Pokpas – wie se ma, Anna, se huis versier is met talle diplomas wat hy al verwerf het – het nie geld om verder te gaan studeer nie.

Ma Anna vertel: “Ek werk maar in hierdie vreeslike hitte week ná week in die lande net om ’n kossie op die tafel te kry.

“Waar op aarde gaan ons geld kry om Patrick te laat studeer?

“My arme kind het die hele jaar nagte opgesit.

“Hy moenie soos ek in die lande opeindig nie.”

Vriende in dieselfde straat meen ook dat Patrick ’n kind is wat net die beste verdien en dat studiehulp hom bo sy omstandighede kan laat uitstyg.

Patrick is ’n skamerige outjie.

Hy sê: “Wanneer daar nie kraggeld was nie, was dit kerslig. Soms was ek honger, maar ek het die pyne weg ge-swot.

“Ek het elke oomblik by die skool ge-swot. My ideaal is om eendag veekunde te gaan studeer en ’n veearts te word.

“Ek casual sedert die einde van die eksamen op die plaas en spaar elke sentjie.”

Sy ma voeg by: “My kind moet uitstyg. Hy is die eerste kind in die huis wat so hoog geleerd is. Saans bid ek dat ’n wonderwerk vir Patrick moet gebeur. Sy harde werk is beloon, maar sy toekoms is nou in ’n doodloopstraat.”

Lesers wat Patrick kan help, is welkom om hom te bel by 074 085 3155.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters