13 dae gelede
Slim motoris fnuik ‘rowers’ se planne
KYK NET: CCTV-video wys hoe die verdagte persoon die man in die voertuig nader.  ~ Videogreep / Verskaf

DIE polisie ondersoek ’n klag van poging tot moord nadat daar op die eienaar van ’n welbekende winkel in Lansdowne geskiet is.

Die voorval het Maandag omstreeks 17:20 voor sy huis in Gatesville gebeur.

Kringtelevisie wys hoe twee verdagtes die 50-jarige man probeer beroof.

Volgens ’n ingeligte bron het inwoners die twee verdagtes vir omtrent drie weke in die area gesien, “maar hulle is nou ewe skielik missing in ac­tion”.

In die clip kan ’n mens sien hoe die eienaar voor sy huis stop en die elektriese hek oopmaak.

Op die agtergrond loop die twee skarrelkatte.

Terwyl die eienaar sy kar intrek, glip die een verdagte by die perseel in.

Dan laat val die verdagte sy gun op die grond.

Maar voordat hy dit kan optel, reverse die man amper teen die verdagte vas en ry dan weer vorentoe.

Ongedeerd

Nadat die verdagte sy gun opgetel het, begin hy op die voertuig skiet, maar sonder enige sukses. Hy hardloop dan weg.

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en gesê dat die man in die kar ongedeerd daarvan afgekom het.

Sy sê: “Geen arrestasies is tot dusver uitgevoer nie en die omstandighede rondom die voorval word ondersoek.”

Inwoners word versoek om baie waaksaam te wees en op die uitkyk te wees vir enige verdagtes voordat hulle by hul elektriese hekke intrek.

Hulle moet ook enige vreemde gedrag aan die polisie rapporteer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters