3 maande gelede
#KYK: Slagting van 5 ruk buurt
Elton John FilandorpFOTO VERSKAF  ~ 

“EK WAS daar toe my seun sy laaste asem uitblaas.

“Sy oë het by sy kop uitgepeul en sy brein het langs hom gelê.”

So het Fuad Daniels vertel van sy seun Qiyaam (16) se laaste oomblikke nadat drie gewapende mans Donderdagaand op hom en vyf ander losgebrand het.

Net een van die mans het die aanslag oorleef.

Qiyaam was die jongste van die slagoffers.

Die aanval het hom in N-Blok in Blikkiesdorp afgespeel.

By Son se besoek Vrydag het inwoners in groepies rondgestaan voor die hok waar die mans afgemaai is.

Fuad het vertel sy kind was nie ’n gangster nie en het met almal uitgehang.

“Ons het Donderdag heeltyd voor die TV gelê. Die laaste program wat ons saamgekyk het, was Days of Our Lives. Hy het opgestaan en gesê hy kom nou.”

Toe Fuad weer iets van sy kind hoor, was dit slegte nuus.

“Ek was stom. Ek was bewus van al die lyke om my, maar my aandag was by my kind. Totdat hy sy laaste asem uitgeblaas het, was ek daar.”

Die eienaar van die hok, Alie Abdul van Tanzanië, was Vrydag nog in skok. Hy het gesê hy was in die toilet wat net buite die hok geleë is toe hy geluide gehoor het.

“Ek het die deur oopgestoot en gevra wie dit is. Toe sien ek die vuurwapens.”

Hy kon nie die mans se gesigte sien nie, maar voeg by hulle was drie.

Kopskote

“Een het ’n lang vuurwapen gehad en die ander twee kleintjies. Ek het in die toilet bly sit, want een van die mans het my beveel om my mond te hou.”

Een van die mans het by die deur gestaan en die ander twee het ingegaan. Al drie het in die hok geskiet. Ses mans was gedurende die voorval in die hokkie. Al ses het kopskote gehad.

Die een wat oorleef het, is steeds in ’n koma.

Qiyaam en nog ’n man, Elton John Filandorp, is Suid-Afrikaners. Die drie ander victims is van Tanzanië en was net bekend as Toddy, Suma en Smiley.

Die mans was nie gangsters nie, sê die inwoners van Blikkiesdorp.

“Amper almal van hulle was dakloos. Hulle het altyd by die hokkie gesit en geslaap. Bedags het hulle geskarrel en scrap verkoop,” het Riedewaan Moosa gesê.

Inwoners het gesê daar gaan nie ’n dag verby sonder ’n skoot in Blikkiesdorp nie.

“Die polisie kom as daar ’n scene is. As die bodies weg is, is ons maar net weer sonder beskerming,” sê ’n inwoner wat nie genoem wil word nie.

“Ek weet nie hoeveel lyke moet nog hier uitgaan voor ons eendag huise kry nie. Die plek het ’n moordkuil geword.”

Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het die skietvoorval bevestig.

“Niemand is nog in verband met die moorde aangekeer nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters