28 dae gelede
Skote op groep eis 4 en wond 1
GEWELDPLEGING: Die bloed vloei Sondag ook in Hanover Park, waar drie mans in afsonderlike gevalle doodgeskiet is.  ~ Foto Verskaf

DIE cops is op soek na vier verdagtes nadat vier mans gister in die vroeë oggendure in Cross­roads­ koelbloedig doodgeskiet is.

Die mans – almal in hul 30’s – het na verneem word buite ’n huis in Noxolostraat gesit en drink toe daar op hulle losgebrand word.

Volgens brig. Novela Potelwa, ’n polisiewoordvoerder, het ’n wit Volkswagen GTI voor die betrokke huis stilgehou. Drie mans het uit die motor geklim en op die groep mans losgebrand.

Pumzile Maubese is noodlottig gewond en is op die toneel dood. Athenkosi May, Lungile Xelela en Zuko Dyantyi­ het in die hospitaal aan hul wonde beswyk.

Olwethu Ngcawuzela is in die skietery gewond en is tans in die hospitaal.

Die beamptes het 25 R5-koeëldoppies en 12 9 mm-koeëldoppies op die toneel gevind.

Die verdagtes het van die toneel weggejaag en is nog nie gearresteer nie. Die cops volg die leidrade op.

  • In nog geweldpleging in Hanover Park is drie mans Sondag in afsonderlike skietvoorvalle afgemaai.

Twee 19-jarige mans is in die eerste voorval Sondag omstreeks 05:30 by Donegal Court in ’n bendeverwante voorval doodgeskiet. Dieselfde dag omstreeks 17:20 is ’n 40-jarige man in Stonelands-weg doodgeskiet.

Volgens Kashiefa Mohammed, ’n gemeenskapswerker, het die cops van die Philippi- polisiestasie meer as ’n uur gevat om na die toneel van die dubbele moord te kom.

Luister

Mohammed sê: “Die gemeenskap is moeg van al die bendegeweld en moorde.

“Ons as gemeenskap is die oë en ore van die cops, maar hulle luister nie na ons nie.”

Intussen is niemand nog vir die drie moorde in Hanover Park gearresteer nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters