Verlede maand
Skote op drie: Cops ondersoek voorvalle
Die polisie in die Strand ondersoek 'n rits skietvoorvalle.  ~ Foto ter Illustrasie

COPS in die Strand ondersoek verskeie klagte van poging tot moord ná ’n reeks skietvoorvalle.

Volgens die polisie is ’n man laas Dinsdag omstreeks 05:00 in Serina­straat 4, Sercor Park, gewond toe hy saam met ’n vriend in ’n hok gesit het. Sy aanvaller het vier skote deur ’n venster afgevuur. Hy is in die rug gewond.

Die gewonde man, wat aan die polisie as Luvo bekend is en in Zola woon, is in die hospitaal opgeneem.

Hy is in ’n stabiele toestand.

Die voorval hou met bendegeweld verband.

Gekonfronteer

Sondag omstreeks 05:40 by dieselfde adres in dieselfde hok is Keith Baumen ook gewond toe ’n verdagte deur die venster op hóm geskiet het. Hy is in die kop getref en word tans in die hospitaal behandel.

In nog ’n voorval moes Dawid Roman Maandag omstreeks 23:00 vir sy lewe vlug toe daar op hom geskiet is. Dié voorval het op die hoek van Fernlaan en Sercorweg, Sercor Park, plaasgevind.

Roman het glo in die straat geloop toe ’n wit VW Golf langs hom gestop het.

’n Man het uitgeklim en hom gekonfronteer. ’n Argument het ontstaan en die verdagte het hom gegryp en wou toe met hom baklei.

Inligting

Roman het losgeruk en begin hardloop. Die verdagte het toe sy vuurwapen uit die kar gehaal en verskeie kere op hom geskiet.

Hy is in die arm getref en is in die hospitaal opgeneem. Enigeen met inligting word versoek om lt.kol. Franklin Plaatjies te bel by 082 469 3359.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters