3 maande gelede
Skote klap weer, 2 val op Vlakte
MOORDTONEEL: Die lyk van ’n onbekende man is Maandagoggend langs die spoorlyn by Kensington gevind.Foto: FACEBOOK  ~ 

TWEE mans is binne dae in Factreton koelbloedig doodgeskiet.

In die jongste voorval het ’n 35-jarige man, bekend as Fonnie, ’n loodpil in die kop gekry.

Die voorval het Dinsdag 22:20 in Glider Crescent gebeur. Die man is op die toneel dood.

Die cops ondersoek nog die omstandighede rondom die voorval.

Toegedraai

In nóg ’n voorval Maandagoggend in Factreton is die lyk van ene Shaun by die spoorlyn gekry.

Hy is na verneem word in die kop geskiet en sy lyk was toegedraai in swart plastiek.

Hy het in die nabygeleë plakkerskamp gebly. Die omstandighede rondom sy dood word ook ondersoek.

Volgens Erika Isaacs, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum in Kensington, hou die skietery aan ondanks die teenbende-eenheid, wat die gebied gereeld patrolleer.

Isaacs sê: “Dit was ’n ruk stil in die bied. Ons is bekommerd dat die bendeskietery nou weer begin het.

“ ’n Onskuldige vrou is ook verlede week gewond toe sy in die bendes se kruisvuur beland het.”

In Blikkiesdorp, Delft, is ’n 26-jarige man in ’n skietery gewond.

Die man het omstreeks 21:00 by D-blok buite sy woning gestaan toe hy skote hoor. Hy’t net ’n brandpyn in sy rug gevoel en besef hy is raak geskiet.

Hy is per ambulans na die hospitaal geneem. Hy is in ’n bestendige toestand.

Ses mense is sedert Maandag in afsonderlike skietvoorvalle in Delft doodgeskiet.

Intussen het die portefeuljekomitee oor polisie gister aan die parlement verslag gedoen oor die bendegeweld en sy strategie teen die bendes.

Die meeste gemeenskappe op die Kaapse Vlakte voel egter die polisie doen te min om die bendegeweld hok te slaan.

Volgens kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, is niemand al vir dié skietvoorvalle gearresteer nie.

Die polisie het twee sake van moord en een van poging tot moord geopen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters