Verlede maand
Skote klap in ‘aanval uit wraak’
MOORDTONEEL: Darryl Petersen, vermeende leier van die Dana Boy-bende in Bonteheuwel, is Donderdag helder oordag voor sy huis afgemaai. Foto: PETER ABRAHAMS  ~ 
MISDAADOPERASIE: Die groep polisiebeamptes besoek Bonteheuwel se gevaarpunte gister tesame met wetstoepassers en buurtwaglede.FOTO VERSKAF
MOORDTONEEL: Die bloues is weer besig op ’n toneel waar nóg ’n man Woensdagaand koelbloedig doodgeskiet is. Foto: LEON KNIPE
MOORDTONEEL: Darryl Petersen, vermeende leier van die Dana Boy-bende in Bonteheuwel, is Donderdag helder oordag voor sy huis afgemaai. Foto: PETER ABRAHAMS

’N VERMEENDE gangster en die laitie van ’n dikding in die American-bende is Woensdag in afsonderlike voorvalle in Bonteheuwel doodgeskiet.

In die jongste voorval is die laitie van ’n American-dikding Woensdagaand in Borriehoutstraat afgemaai.

Jongens het blykbaar vanuit ’n bakkie op die 28-jarige man losgebrand.

Hy is verskeie kere raak geskiet. Meer as 24 koeëldoppies is op die toneel opgetel.

Niemand is tot dusver gearresteer nie. Die cops ondersoek ’n moordsaak.

Volgens die inwoners kan dit ’n wraakaanval wees ná die skietvoorval vroeër die oggend toe die leier van die Dana Boys voor sy huis in Mahoganystraat doodgeskiet is.

Darryl Petersen (36) het voor sy garage gestaan toe daar op hom losgebrand is.

Die skieters het Petersen nege keer getref. Hy is op die toneel dood.

Angus Mckenzie, wyksraadslid in Bonteheuwel, het gister saam met die cops, wetstoepassers, lede van die metropolisie en buurtwag verskeie hot spots besoek.

Mckenzie sê: “Die operasie was ’n bewusmakingsaksie oor vroue- en kindermishandeling, asook om op die bendegeweld in die gebied te fokus.”

Die flinke optrede van die cops het daartoe gelei dat ’n verdagte kort ná die voorval in hegtenis geneem is.

Lt.kol. Andrè Traut, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig ’n 33-jarige verdagte is gearresteer.

Die man is van moord aangekla en sal binnekort in die Bishop Lavis-landdroshof verskyn.

  • In ’n ander skietvoorval Woensdagaand is ’n man van Kraaifontein by sy huis afgemaai.

Die 50-jarige Clifford Luyt is voor sy huis in Scottsdene vol gate geskiet. Hy is op die toneel dood.

Volgens Traut het die voorval omstreeks 18:15 in Koedoestraat gebeur en is niemand tot dusver gearresteer nie.

Gavin Riddles, voorsitter van die gemeenskapstigting vir wet en orde in Kraaifontein, het die vlaag van geweld in hul gebied veroordeel.

Gavin sê: “Die polisie is onbevoeg om die gemeenskap veilig te hou. Die lede van die gemeenskap word aan hul eie lot oorgelaat.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters