3 maande gelede
Skote eis vier oor naweek
SKOK: Die moord op Thurston Jaars het die Kraaifontein-gemeenskap geruk.  ~ Foto Verskaf

DIT was ’n bloedige naweek in Kraaifontein toe vier jong mans koelbloedig afgemaai is.

Eers is twee tjommies, Cheslyn September (27) en Donovan Rudolf (25) van Wallacedene Saterdagaand in Ntongana-weg doodgeskiet.

September en Rudolf was bymekaar toe drie gemaskerde mans op hulle losbrand.

Albei het op die toneel aan hul wonde beswyk.

Kort daarna is Thurston Jaars (24) voor ’n winkel in Scottsville doodgeskiet.

Dié voorval het ’n paar meter weg van sy ouerhuis in Midway­straat gebeur waar hy saam met sy grootouers gewoon het.

Net toe die stof gaan lê, is Charlton Faro (27) op die hoek van Eoan- en Wolwefontein-laan in Northpine doodgeskiet.

Dis veral Jaars se dood wat skokgolwe deur die Kraaifontein-gemeenskap gestuur het oor hy ’n belowende jong man was wat nie aan ’n bende behoort het nie.

Inwoners meen Jaars, wat ’n forex trader was, is uit jaloesie doodgeskiet.

’n Gemeenskapsleier en lid van die Kraailove-gemeenskapsgroep wat anoniem wil bly, het aan Son gesê dis skokkend om te sien hoe jong mense elke dag uitgemoor word.

Die gemeenskapsleier sê die gemeenskap self moet die skuld vat.

Hy sê: “Dis regtig hartseer wat tans in ons gemeenskap gebeur.

“Ons blameer almal rondom ons, behalwe onsself. Ons weet waar die guns gehou word en drugs versteek word. Maar steeds hou ons ons mond.

“Die dag wanneer daai selfde vuurwapens ons kinders raakskiet, verwag ons die gemeenskap moet opstaan en sê genoeg is genoeg!

“Onthou, jy kan jou kinders agter groot hekke toesluit, maar ’n dwaalkoeël het nie ’n naam op nie.

“As ’n leier van Kraaifontein voel ek die gemeenskap moet uit sy comfort zone kom en sy kant bring.”

Die gemeenskapsleier sê Kraaifontein het meer mense nodig wat saam misdaad sal beveg en nie net sal toekyk nie.

Vlug

’n Polisiewoordvoerder, kapt. FC van Wyk, het bevestig die polisie ondersoek die omstandighede waaronder vier mans in Kraaifontein doodgeskiet is.

Volgens Van Wyk is twee mans van 25 en 27 jaar oud Saterdag omstreeks 20:20 in Ntongana-weg in Wal­lacedene doodgeskiet toe drie gemaskerde mans hulle genader het.

Dié voorval is bendeverwant, sê Van Wyk.

Hy verduidelik: “Die slagoffers het veelvuldige skietwonde opgedoen en het op die toneel aan hul wonde beswyk. Die verdagtes het te voet op die vlug geslaan.

“Later dieselfde aand omstreeks 22:00 is ’n man (24) op die hoek van Alfred- en Midwaystraat in Scottsville doodgeskiet.

“Die slagoffer het van die winkel af gekom toe die onbekende skieter hom nader en skiet.

“Die slagoffer is op die toneel dood en die verdagte het weggehardloop.”

Van Wyk sê ’n 27-jarige man is Sondag omstreeks 13:20 doodgeskiet is terwyl hy saam met sy vriend in Northpine geloop het.

Inligting

Daar is daar nog geen arrestasies in enige van die voorvalle gedoen nie, voeg hy by.

Hy vra enigiemand met inligting oor die voorvalle om die ondersoekbeampte, sers. Brendon Jephta, by 082 469 3319 te skakel.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters