3 maande gelede
Skote eis taxi-ou
Troos: Familielede van John Neethling treur gister langs die kar waar hy dood is. Foto’s: Leon Knipe  ~ 

’N TAXI-DRYWER van Blackheath is gister ten aanskoue van sy minderjarige seun in sy driveway doodgeskiet.

Meters van die toneel af het sy vermeende moordenaars glo probeer om ’n ander man, John Neethling (32), te kaap. Neethling het probeer wegkom, maar is ook in die proses doodgeskiet.

Patrick Consani (49), was die voorsitter van die Blackheath/Malibu-taxiver­eniging. Hy het skoolkinders in die gebied vervoer.

Volgens kapt FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, is Consani omstreeks 06:00 in Heathstraat geskiet.

Vriende van Consani het gesê die aanval op hom is beplan en dat dit verband hou met taxi-geweld wat tussen Codeta en dié vereniging woed.

Geteiken

“Hulle (die twee vermeende skieters) moes sy bewegings dopgehou het, want hoe het hulle geweet hy ry daardie tyd?” het een van die taxi-eienaars gesê.

“Hulle het hom geteiken.”

Die bevreesde eienaar het bygevoeg: “Hulle het al ons roetes invade. Van Blackheath na Bellville, die Kaap en Eersterivier.”

Een van Consani se drivers is glo ook vantevore gedreig.

Consani se vrou, Celeste, en kinders was gister te getraumatiseer om met die media te praat.

Codeta se woordvoerder, Besuthu Ndungane, het by navraag gesê hulle het gehoor van die skietvoorval. “Ons wag op die polisie om te bevestig of die voorval enigiets met taxi-geweld te doen het. Eers wanneer dit bevestig is, sal ons kommentaar lewer.”

Neethling en sy skoonma was op pad werk toe toe die twee mans sy wit Polo Vivo nader.

Gelewe

Hy het die dodgy karakters opgemerk en probeer wegkom. Die skieters het op hom losgebrand, maar Neethling het aangery, vertel sy swaer, Wesley Myburg.

“Hy is in die skietery gewond en het tot oorkant die Engen garage in Austinville gery. Toe ek by die garage kom, het hy nog gelewe, maar hy is ’n kort rukkie ná dit dood,” sê Myburg.

Lede van die polisie se forensiese eenheid het tot die middag die gebied vir leidrade gefynkam.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters