Verlede maand
Skote eis meisie (15)
DOOD: Celeste Carelse (15) van Athlone is Maandag in die hospitaal dood nadat sy Sondag raak geskiet is.  ~ Foto Verskaf

DIE skoolbank van ’n leerder van die Hoërskool Athlone is vandag leeg nadat haar lewe deur ’n dwaalkoeël kortgeknip is.

Celeste Carelse (15) van Belgravia het Maandagmiddag in die Groote Schuur Hospitaal afgesterf.

Celeste was Sondagaand saam met vriende in ’n motor op pad huis toe in Veldstraat toe sy raak geskiet is. Sy is in die skouer, bors en rug getref.

Hulle het onmiddellik saam met haar na die Heideveld Daghospitaal gejaag, waar haar toestand gestabiliseer is.

Celeste is daarna oorgeplaas na die Groote Schuur Hospitaal, waar sy ’n noodoperasie ondergaan het.

Haar toestand het egter vinnig verswak en sy het die dag daarna gesterf.

Dis nog ’n groot raaisel wie Celeste raak geskiet het.

Volgens gerugte is sy getref toe die gangsters op die weermag en cops geskiet het wat in die gebied besig met operasies was.

Volgens ’n inwoner wat verkies om anoniem te bly het die weermag-ouens die motor gestop om deursoek te word.

Outopsie

Die bestuurder het na bewering weggejaag en die weermag-ouens het op die motor losgebrand. Die meisie is glo toe gewond.

Celeste se tante Saman­tha Petersen (43) sê: “Ons is bewus van die gerugte, maar kan dit nie bevestig nie.

“Die polisie moet hulle werk doen. Ons wag vir die uitslae van die outopsie om te sien watter koeël haar dood veroorsaak het.

“Toe ons die tyding kry sy is raak geskiet, het ons na die Heideveld Daghospitaal gejaag.

“Sy is vroeg Maandag­oggend, omstreeks 03:00, oorgeplaas na die Groote Schuur Hospitaal. ’n Noodoperasie is op haar gedoen.

“Haar hart het egter verswak en sy het die middag om 14:20 afgesterf.”

Petersen het Celeste as ’n gehoorsame kind beskryf, wat hulle baie gaan mis.

Sy was ook baie lief vir musiek.

Celeste sou nou terug skool toe gegaan het om haar gr. 8 te herhaal.

Volgens Petersen het hulle die skote hoor afgaan, maar nie geweet dit is Celeste wat raak geskiet is nie.

Inwoners beweer die weermag het die laaste tyd gereeld klopjagte in die area uitgevoer en al verskeie vuurwapens en dwelms gekonfiskeer.

Inwoners van Athlone het ook verlede week na verskeie druglords se huise gemarch oor die toename in dwelmgebruik in die gebied.

Intussen is die polisie besig om ’n moordsaak te ondersoek.

Volgens Siyabulela Malo, polisiewoordvoerder, is hulle besig om moontlike leidrade op te volg.

Niemand is nog gearresteer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters