25 dae gelede
Skote eis ma
DOOD: Gouwa Karriem (28) is Sondag koelbloedig in Hanover Park vermoor.  ~ Foto Verskaf

’N ONSKULDIGE ma van drie minderjarige kinders is Sondag koelbloedig in Hanover Park doodgeskiet.

Gouwa Karriem (28) is deur ’n dwaalkoeël in die kop getref en is op die toneel dood.

Die voorval het by Donegal­ Court gebeur toe gangsters op mekaar begin skiet het.

Volgens ’n familielid wat verkies om anoniem te bly, het Gouwa in die gangsters se crossfire beland.

“Sy het uitgegaan toe die gangsters begin skiet.

“­ ’n Dwaalkoeël het haar in die kop getref. Die koeël het agter uitgegaan.

“Sy is die ma van drie kinders. Haar jongste kind is vier jaar oud en die ander twee is ses en ag jaar oud.”

Kashiefa Mohammed van Philippi se polisiëringsforum het haar misnoeë met die moord uitgespreek.

Mohammed sê: “Daar was verskeie skietvoorvalle die naweek, maar net een persoon is doodgeskiet.

“Dis ’n onskuldige ma van drie kinders wat die gangsters doodgeskiet het.

“Die kinders moet nou sonder hulle ma grootword.”

Volgens Mihlali Majikela, ’n polisiewoordvoerder, word die omstandighede rondom die skietery nog ondersoek. Niemand is nog gearresteer nie en ’n moorddossier is aangelê.

  • Intussen is ’n vermeende Mongrel gangster (22) in Lavender Hill doodgeskiet.

Die voorval het 18:15 Sondag by De Waal Court gebeur.

Nog ’n vermeende Mongrel-bendelid (33) en ’n vrou (40) is ook in die skietery gewond.

Volgens kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, is ’n saak van poging tot moord en een van moord geopen.

Inligting

Niemand is nog gearresteer nie. Enige persone met inligting oor die skietvoorvalle kan die polisie se StopMisdaad-lyn tolvry by 08600 10111 bel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters