8 maande gelede
Skote eis kind van bende-ou
VERMEENDE BENDEBAAS: Horatio Solomon (in die middel) is Sondagaand in ’n skietvoorval gewond terwyl sy 13-jarige-dogter aan haar wonde beswyk het.  ~ Foto Verskaf

’N VERMEENDE Terrible Joster-bendebaas, Horatio Solomon, se 13-jarige dogter is dood.

’n Saak van moord word ondersoek nadat die meisie dood is as gevolg van skietwonde.

Die kind was saam met haar daddy toe die skietery uitgebreek het.

Die polisie ondersoek ook ’n saak van poging tot moord nadat Solomon ook in die voorval gewond is.

Solomon is op die oomblik nog in die hospitaal.

Volgens die polisie het die voorval Sondag om 20:45 in Durban­ville plaasgevind.

Mihlali Majikela, ’n provinsiale woordvoerder van die polisie, het gesê ’n 30-jarige man en ’n 13-jarige meisie is na ’n nabygeleë mediese fasiliteit geneem vir behandeling.

“Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek.

“Geen arrestasies is nog gemaak nie,” sê hy.

Solomon is een van 12 vermeende Terrible Joster-bendelede wat tereg staan op 71 klagte, insluitend moord, poging tot moord en dwelmsmokkel.

Solomon is uitgewys as die leier van die vermeende bende deur ’n staatsgetuie wat getuig het dat hy self ’n lid van die bende was.

Die saak het in Augustus verlede jaar begin.

Verskeie getuies is al geroep.

Son het in Desember berig dat Solomon op borgtog vrygelaat is nadat hy al sowat twee jaar in aanhouding was.

Drie van sy medebeskuldigdes, Ishmaeel Ockerts, Brent Campbell en ’n derde verdagte, het ook borgtog gekry.

Die derde persoon se naam word weerhou omdat hy familie is van die staat se eerste getuie.

Solomon moes R10 000 opdok vir bail en die ander elk R5 000.

Die staat het dit nie teengestaan nie omdat die belangrikste staatsgetuie in die klagte teen die vier beskuldigdes klaar getuig het.

Hulle regsverteenwoordigers het aangedui die kliënte sal aan die borgtog-voorwaardes voldoen.

Die saak is uitgestel tot vandag nadat die vermeende bendelede se regspan aan die hof gesê het dat hulle ’n aansoek gaan bring om die saak uit die hof te laat gooi.

Die aansoek sal na verwagting vandag in die hof aangehoor word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters