Verlede maand
Skoolmeisies in visier
teiken: Talle skoolmeisies kon uit die kloue van ontvoerders ontsnap.Foto’s ter illustrasie: iStock Images  ~ 

DIT wil voorkom asof jong meisies alwéér in die visier van ontvoerders is.

Son het Maandag berig oor ’n 14-jarige meisie van die Hoërskool Brackenfell wat Woensdag van ’n ontvoering ontsnap het. Dié leerder was op pad huis toe toe die insittendes in ’n motor haar voorgekeer en aanwysings na Groenpunt gevra het.

Son verneem nóg ’n leerder is vandeesweek byna in Brackenfell ontvoer.

Boonop het twee meisies in Uitsig, Ravensmead, ook ’n ontvoering vrygespring.

Só sê Candice van der Rheede, voorsitter van die Western Cape Missing Persons Unit, aan Son.

Volgens Van der Rheede het sy ’n oproep van haar areabestuurder gekry wat haar oor die voorval ingelig het.

Sy vertel: “Hulle het besluit om na die kinders te gaan soek. Soos hulle gery het, het hulle gesien hoe twee meisies van ’n groen bakkie afspring.

“Ek het haar gesê om hulle na die polisiestasie te neem vir berading.”

Sy sou gister met die ouers van die kinders opvolg om uit te vind wat hul toestand ná hul ordeal is.

Betrokke

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het bevestig hulle weet van die voorval rakende die twee kinders in Uitsig.

Volgens Van Wyk het die ouers van die kinders hulle by die polisiestasie kom haal en hulle wou nie hê die polisie moet betrokke raak nie.

Die kaptein sê: “Hulle is daar weg met die kinders en het gesê hulle sal hulle self uitsorteer.”

Van Wyk sê van die jongste poging tot ontvoering in Brackenfell het hulle geen rekord nie, maar wel van die een wat laas Woensdag gebeur het.

Volgens Van Wyk het die leerder se vinnige en dapper reaksie veroorsaak dat die poging misluk het.

Hy bevestig die Brackenfell-polisie ondersoek tans ’n saak van poging tot ontvoering nadat onbekende mans probeer het om die 14-jarige meisie by hul kar in te dwing.

Van Wyk verduidelik: “Die meisie het omstreeks 15:15 vanaf die skool geloop.

“Daar word beweer dat ’n blou Volkswagen Polo met drie insittendes langs haar in Paradysstraat, Brackenfell, stilgehou het.

“Hulle het met haar Afrikaans gepraat en gevra of sy nie weet waar Green Point is nie.

“Die voorste passasier het na bewering uit die Polo geklim en probeer om die meisiekind te gryp, maar sy was te vinnig en het in die teenoorgestelde rigting gehardloop.

“Sy het ’n afleweringsvoertuig vir hulp gestop.

“Die blou Polo, met ’n onbekende registrasienommer, het van die toneel af weggevlug.

“Die meisiekind is verder deur die insittendes van die afleweringsvoertuig gehelp. Hulle het haar direk na die Brackenfell-polisiestasie gebring.”

Inligting

Volgens Van Wyk was die meisiekind getraumatiseer, maar sy het gelukkig geen beserings opgedoen nie.

Hy voeg by sy is verder deur die Brackenfell-polisie se slagoffer-ondersteuningspan gehelp.

Van Wyk vra dat enige iemand wat inligting rondom dié voorval het, AO Raymond Saville of die Brackenfell-speurtak by 079 522 1790 sal kontak.

Hulle kan ook Crime Stop by 08600 10111 bel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters