3 dae gelede
Skoolkind in bors gesteek
kom om: Austin Lekay is dood nadat hy gisteroggend voor die Hoërskool Crystal gelem is.Foto: FACEBOOK  ~ 

’N LEERDER van die Hoërskool Crystal in Hanover Park is dood nadat hy gisteroggend voor die skool gelem is.

Die gr. 10-kind, Austin Lekay, is ná ’n klipgooiery deur ’n vermeende Americans-lid gejaag en met ’n mes gesteek.

Lekay (17) is een keer in die bors getref. Hy is in ’n privaat motor na die hospitaal geneem, maar is op pad daarheen dood.

Volgens ’n inwoner het ’n groep leerders voor die skoolhek gestaan omdat hulle laat was.

Die ontstelde inwoner sê: “As die kinders net vyf minute laat is, dan sluit die skoolhoof die hek.

“Ons het ’n probleem met die skoolhoof. Ek het hulle gewaarsku ’n kind gaan nog sy lewe verloor.

“Die groep seuns het nog voor die geslote skoolhek gestaan toe jongens uit Lomond Court kom en hulle met klippe gooi en hulle verjaag.

“Die leerders het toe klippe na die jongens teruggegooi.

“Een van die Americans gangsters het by die court uitgekom en hom tot by die parkie in Rystonweg gejaag.

“Hy het die leerder een keer in die bors gesteek en daarna weggehardloop.”

Volgens die inwoner was dieselfde leerder Maandag ná skool by ’n klipgooiery en messtekery betrokke.

Jessica Shelver, ’n woordvoerder van die onderwysdepartement, het bevestig ’n gr. 10-leerder is noodlottig gewond.

“Die voorval het nie op die skoolterrein gebeur nie,” benadruk Shelver.

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n woordvoerder van die polisie, het die voorval bevestig.

Rwexana het gesê die polisie is reeds besig om alle leidrade op te volg.

’n Moordsaak is geopen, maar tot dusver is geen verdagtes aangekeer nie.

Deursoek

Verlede week is ’n leerder aan die Hoërskool Ath­lone erg aangerand in ’n bakleiery ná skool.

Twee ander leerders van dieselfde skool is ná skoolure buite die perseel deur die polisie deursoek.

Die cops het ’n panga in hulle besit gevind.

Die leerders is vir vyf dae uit die skool geskors.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters