Verlede maand
Skoolhoof se dood dalk hit
GROOT VERLIES: Zameka Mfubesi word beskryf as ’n uitstekende hoof wat die matriekslaag­syfer by haar skool drasties verbeter het.  ~ Foto Verskaf

DIE vermoedelike hit op ’n skoolhoof van Grabouw hou heel waarskynlik verband met die skorsing van ’n personeellid vroeër in die jaar.

Die skietdood van Zameka Mfubesi (46), hoof van die Hoërskool Umyezo Wama Apile, het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.

Sy is Vrydagmiddag ná skool by die stopstraat naby die N2-snelweg doodgeskiet toe sy op pad was na haar huis in Eersterivier.

Volgens bronne is sy verskeie kere gewond en wou die skieter seker maak sy’s dood.

Solly Ntwana, voorsitter van die skoolbeheerliggaam, het ’n skokkende onthulling aan Son gemaak.

Volgens hom wou die gemeenskap van Grabouw in Julie ontslae raak van Mfubesi nadat ’n personeellid geskors is.

Toe dit bekend word dat die werker geskors word, het daar ’n hele commotion ontstaan en van die gemeenskapslede het teen haar opgestaan, vertel Ntwana.

Ntwana sê daar is toe aangevoer dat Mfubesi teen die aanstelling van plaaslike personeel is.

“Dís toe daar getoi-toi is en die skool ontwrig is.

“Met Covid-19 het die skole toe net weer oopgemaak en leerders is geaffekteer.

“Die matrikulante se eksamen was ook op pad.”

Ntwana sê nadat die situasie lelik handuit geruk het, het hulle besluit om ’n ouervergadering te hou.

Daar is toe aan hulle verduidelik dat die betrokke personeellid nie geskors is nie, maar dat ’n dissiplinêre verhoor hangend is.

’n Hartseer Ntwana sê: “Haar dood is vir ons ’n groot verlies.

Genader

“Iemand wat ’n persoon kan vermoor wat ’n diens lewer aan die regering, is ’n vyand van die staat.

“Sy was ’n goeie hoof en het die matriekslaagsyfer in haar eerste jaar vanaf 60% na 80% geneem.”

’n Bekende gemeenskapsleier van Grabouw wat nie sy naam genoem wou hê nie, het aan Son gesê die skool het hom genader om in te tree toe die ongelukkigheid uitgebreek het.

Hy sê hy het egter geweier om betrokke te raak.

Sersant Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, sê hulle ondersoek ’n klag van moord.

Sy sê die polisie is tans besig om leidrade op te volg om so gou moontlik ’n arrestasie te kan uitvoer.

Die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, Debbie Schäfer, het ’n beroep op die polisie gedoen om so spoedig moontlik die moordenaar vas te trek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters