13 dae gelede
Skool tweede keer ’n target
VERNIETIG: Rolene Wentzel staar by een van die vensters uit wat in die aanval op die skool met klippe uitgegooi is.  ~ Jonathan Lestrade

“OM SKOLE en besig­hede te vandaliseer is nie reg nie.”

Só sê mense wat op die skoolterrein van die Bet-el Skool in Nooiensfontein bly nadat die perseel Maandagnag aangeval, gevandaliseer en aan die brand gesteek is.

Rolene Wentzel vertel gister hulle moes die nag van die aanval die brand van binne blus.

Die Bet-el Skool vir Epileptici in Nooiensfontein is blykbaar geteiken tydens ’n grondbesetting rondom die skool.

Volgens Wentzel en ander mense wat op die skoolgrond werk en woon, soek mense grond en huise.

Wentzel sê dis nou al die tweede keer dat die skool deurloop. Sy is net dankbaar dit het nou gebeur terwyl die skole weer gesluit is.

Sy verduidelik: “Klippe is eers teen die ruite gegooi en toe kom daar petrolbomme deur die vensters. Ons moes die tuinslang tot binne bring om die vlamme te blus.

“Ek is getraumatiseer en voel dis onregverdig dat ons lewe in gevaar gestel word. Dis die regering se verantwoordelikheid om beloftes na te kom wat hy aan mense maak oor huise.”

Wentzel sê sy het alles verloor en weet nie hoe sy nou gaan maak nie.

“Mense besef nie hoe hul aksies ander raak nie. Hier sit ons in die middel van hul griewe.

“Die ergste van alles is ons sukkel met ’n pandemie en nou breek mense nog skole ook af.

“Vandalisme is nie die antwoord nie. Dit help niemand nie,” meen sy.

KWAAD: Mandy Hendricks is baie afgehaal oor die aanval op die skool en sê die lewe van die mense wat op die skoolgrond woon is in gevaar. Foto: Jonathan Lestrade

Mandy Hendricks, wat ook op die skoolterrein woon, sê sy blameer die regering oor hy leë beloftes maak.

Verkeerd

Sy sê: “Mense raak gefrustreerd en dan breek hulle als rondom hulle af.

“Almal veg vir education, maar kyk hoe is die skool afgebreek. Dit is nie reg nie.

“Dis verkeerd van die invaders. As julle wil veg, veg vir ’n regte ding.

“Nou breek julle die goed af en dan is julle slegter daarvan af.

“Hier is kinders in die gemeenskap wat hier skoolgaan en dis húlle wat hieronder gaan suffer.”

Bronagh Hammond, woordvoerder van die departement van onderwys, bevestig dat die admin-blok van die skool en ’n gedeelte van die hostel met petrolbomme bestook is.

“Die eetkamer en agterste gedeelte van die hostel is ook beskadig, sowel as die admin-blok se dak.

“Verder is ’n gedeelte van die hek ook beskadig,” sê sy.

STUKKEND: Die skool hek is ook tydens die aanval op die skool beskadig. Foto: Jonathan Lestrade

Hammond sê addisionele sekuriteit is intussen by die skool ontplooi.

“Die skade word tans bepaal om vas te stel wat die herstelkoste gaan wees.

“Dis absoluut onnodig en onverskillig om ’n skool soos hierdie te beskadig.

Onaanvaarbaar

“Sulke dade help nie die mense se saak nie, dit benadeel slegs die leerders van hul gemeenskap.

“Die vernietiging van staatseiendom soos hierdie is onaanvaarbaar en ons hoop dat die oortreders geïdentifiseer sal word,” sê Hammond.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters