5 dae gelede
Skool sê sorry vir homofobiese-voorval
Hoerskool DF Malan vra verskoning na homofobiese onderonsie  ~ Foto ter illustrasie:JONATHAN LESTRADE

DIE skoolhoof en beheerraad van Hoërskool DF Malan het jammer gesê vir hul hantering van 'n beweerde homofobiese voorval tussen leerders.

Nadat die skool 'n versoek van leerders om Pride-maand te herdenk verwerp het, het van die leerders voortgegaan en Maandag tydens pouse 'n "Pride" in-sit gehou. 

Die groep is egter deur 'n groep matriekseuns genader en die situasie het vinnig in intimidasie ontaard. 

News24 berig dat van die leerders ook op 'n Whatsapp groep gevoeg is waar homofobiese opmerkings ook gemaak is.

Die Suid-Afrikaanse menseregtekommissie het Donderdag aangekondig dat hulle 'n ondersoek gaan instel, nadat talle klagte oor die voorval ontvang is. Die ondersoek val saam met een deur die Wes-Kaapse departement van onderwys.

Intussen het meer as 13 000 ontevrede ouers, leerders en lede van die publiek ook 'n petisie onderteken waarin die skool versoek word vir 'n publieke verskoning.

Andre Roux, voorsitter van die skoolbeheerliggaam, sê in 'n verklaring: "Die hoof en beheerliggaam wil omverskoning vra en is spyt oor hoe die gebeure die afgelope week afgespeel het.

"Alhoewel ons nog geen formele kennisgewing van die Suid-Afrikaanse menseregtekommissie oor hul ondersoek ontvang het nie, wil ons die versekering gee dat die skool hul volle samewerking sal gee."

Hy voeg by hulle hoop daar sal in die beste belang van die skool en leerders opgetree word, en dat dit hulle sal help om 'n herhaling van die gebeure te voorkom. - News24

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters