14 dae gelede
Skool se hoof samel geld in
trots: Brent Walters, hoof van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, en Noel Isaacs, hoof van die Laerskool Floreat. Foto’s: MARK WARD  ~ 

NOEL Isaacs, hoof van die Laerskool ­Flo­reat in Steenberg, word geloof vir sy rol in die ­op­rigting van die skool se nuwe saal. Hy is skertsend ’n “profes­sionele bedelaar” ­genoem.

Selfs Brent Walters, hoof van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), het Isaacs se rol as merkwaardig beskryf.

Walters, wat die pos vanaf 1 April beklee, sê die saal pas in by sy visie van ’n holistiese benadering vir die ontwikkeling van leerders.

“Ek is in murg en been ’n onderwyser. Dit is ’n kwessie van full circle. Ek het my loopbaan in 1987 as wetenskap- en wiskunde-onderwyser begin. Maar leerders kan nie net wis­kunde en wetenskap leer nie.

“Die saal skep vir leerders dus oneindige geleenthede om te ontwikkel en hul horisonne te verbreed. Ek hoop dat dit só aangewend sal word,” sê Walters.

Myrtle February, voorsitter van die Garden ­­Cities’ Archway Foundation, het die saal Saterdag in ’n seremonie geopen.

Die saal het ’n bietjie meer as R6 miljoen ­gekos.

Die WKOD het meer as R2 miljoen vir die saal bygedra en die skool meer as R300 000.

February het Isaacs se knaende en volgehoue veldtog as besonders beskryf.

“Ek is selfs gedurende ’n rustige ete in ’n ­restaurant deur mnr. Isaacs aan sy aansoekbrief vir die projek se befondsing herinner,” het sy skertsend gesê.

Isaacs, wat die pos al die afgelope 14 jaar beklee, het gesê die oprigting van die saal is grotendeels te danke aan die geloof en visie van sy personeel en gemeenskap wat groot droom.

“Dit is wel ’n hoogtepunt. Maar dit is net die begin.

“Nou moet ons net van die letsels van apartheid, soos die prefab-geboue, ontslae raak.

“Ons moet ­eerlik wees. Daar is nog baie ongelyk­hede in die onderwys,” het Isaacs bygevoeg.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters