13 dae gelede
Skool ly weer ’n keer skade
VERWOES: Muriel Ortell in een van die kamers wat Dinsdag met ’n petrolbom bestook is.  ~ Jonathan Lestrade

“DIS diere wat só optree.”

Só beskryf Juanita Whittaker­, ’n verpleegsuster by die Bet-el Skool vir Epileptici in Nooiensfontein, die jongste aanval op die skool.

Die skool is sedert die naweek geteiken toe daar grondbesettings rondom die skoolterrein plaasgevind het.

Son het Dinsdag die skool besoek nadat dit Maandagnag met klippe en petrolbomme beskadig is. Kwalik 30 minute ná Son se besoek Dinsdag is die skool wéér aangeval.

Vrot goed het die hek afgebreek en weggesleep en die hostel se ruite met klippe en petrolbomme uitgegooi.

Whittaker beskryf die aanvalle as onmenslik.

“Hulle wéét hier bly mense en ken die mense wat hier bly. Dis klein kinders wat ook aan die vandalisme deelneem.

“Alles is nou moer toe.”

Whittaker is al 23 jaar by die skool.

Sy sê: “Dit is kinders van die gemeenskap wat hier skoolgaan. So, wat verwag die gemeenskap as die skool afgebreek word?

“Dit kan mos nie oor ’n naweek herbou word nie.”

Die hoof, Terence Nefdt, sê hy is diep teleurgesteld omdat hulle ’n verhouding met gemeenskap het.

“Ek weet nie of dit ’n land invasion of hooliganism is nie. Maar dis teleurstellend.”

BESKADIG: Muriel Ortell kyk by een van die vensters van die hostel uit wat Dinsdag met klippe uitgegooi is. Foto: Jonathan Lestrade

Muriel Ortell, wat by die skool woon en werk, vertel: “Wat ek gehoor het, is dat mense meen die skool hoort nie hier nie en dat die grond nodig is vir die bou van huise.

“Hulle sê die skool staan verkeerd.”

Ortell sê sy sal veg teen die vandalisme omdat die skool haar werk- en blyplek is. Mandy Hendricks, wat ook op die terrein woon, sê gister daar is weer petrolbomme gegooi. Sy sê ook kinders het deelgeneem.

Sy sê: “Kom skryf eerder julle kinders by dié skool of ’n ander skool in om hulle te leer dat petrolbomme nie die antwoord is nie.”

Hendricks pak uit: “Dis barbaars. Dié wat deelneem, moet hulle skaam.”

Bronagh Hammond, ’n WKOD-woordvoerder, sê die tweede hostelblok was dié keer die target van petrolbomme.

“Gelukkig was daar nie kinders in die hostel nie.”

Sy sê die skool maak voorsiening vir leerders met matige tot ernstige intellektuele gestremdhede.

Invloed

“As gevolg van die gespesialiseerde aard van die skool word sommige leerders in die koshuis gehuisves.

“Dis sodat hulle voordeel kan trek uit die gespesialiseerde programme wat nie noodwendig in hul gemeenskap aangebied word nie.”

VERNIETIG: Die kombuis in die hostel is erg beskadig nadat dit gebrand het as gevolg van die petrolbombs wat deur die vensters gegooi is. Foto: Jonathan Lestrade

Sy sê om hul skool en “huis” te beskadig sal beslis ’n invloed op hulle hê.

“Dit is totaal onaanvaarbaar,” sê Hammond.

Sy sê die geweld het glo te doen met grondkwessies in die omgewing en die skool is onnodig geteiken om hul woede te toon.

“Maak nie saak waaroor jy protesteer nie, ons kan eenvoudig nie die skade verdra aan eiendom wat sommige van ons kwesbaarste leerders ondersteun nie. Dit is húlle wat ly as gevolg van dié gedrag.”

Hammond sê die WKOD is intussen in kontak met die polisie en gemeenskapsveiligheidstrukture om hulle verder te help.

“Ons doen ook ’n beroep op die gemeenskap in die algemeen om ons te help om dié bate te beskerm.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters