8 dae gelede
Skool is nog uit
geen VERBLYF: Die koshuis van die Morawiese laerskool het tot op die grond afgebrand. Foto’s: ELDRIDGE JASON  ~ 

TERWYL derduisende leerders gister met die nuwe skooljaar begin het, moet leerders van Wuppertal se laerskool ’n week langer wag om skool toe te gaan.

Die Morawiese Primêre Skool Wuppertal se koshuis is volkome verwoes in die brand van 30 Desember wat meer as 50 geboue in puin gelê het.

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) het voor die begin van die nuwe skooljaar gesê dit sou business as usual op die eerste skooldag in Wuppertal wees.

Dit blyk egter nou nie moontlik te wees nie omdat die skool se fasiliteite tans gebruik word om noodvoorrade te stoor.

Jessica Shelver, ’n onderwyswoordvoerder, sê beamptes het laas week besluit om die opening van die skool met drie dae uit te stel sodat die WKOD noodvervoer­reëlings vir die leerders kan tref.

Finaliseer

“Die oorgrote meerderheid van die leerders het in die koshuis gebly en daarom word vervoer nou vir hulle benodig.

sak en as: Meer as 50 huise is deur die verwoestende brand in puin gelê.

“Die WKOD is besig om hierdie reëlings te finaliseer en daar word tans ook gekyk na die moontlikheid van alternatiewe akkommodasie,” het Shelver gesê.

Sedert die ramp stroom hulp vanuit alle oorde in.

Daar word vermoed die verwoestende brand het begin toe ’n groep seuns bye uit hulle nes wou rook vir die heuning.

Die brand het toe baie vinnig deur die klein gemeenskap versprei.

Binne die bestek van ’n uur is 53 geboue verwoes.

Die inwoners het aan Son gesê hulle het nog nooit sulke chaos aanskou nie.

Baie inwoners moes voor die verswelgende vlamme uit vlug met net die klere aan hul liggaam.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters